Home Preke God se volmaakte plan vir ons Die ontelbare skare verloste gelowiges feestelik voor God se troon

Die ontelbare skare verloste gelowiges feestelik voor God se troon

Datum: 2025-09-07
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Openb.7:9

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.145:1,4,5
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Skb.1-3:1,2,3
Lees: Openbaring 7:9-17
Kernverse: Openb.7:9
Tema: Die ontelbare skare verloste gelowiges feestelik voor God se troon
Sang: Ps.145:1,4,5; Ps.9:1,7,10; Ps.38:1,17; Skb.1-3:1,2,3; Skb.18-1:4,5,6; Skb.2-4:1,3

Inleiding:

God se plan is uiteindelik ‘n ewige plan. Sy ewige plan vir elke kind van Hom is dat ons almal, met nie een wat nie daar sal wees nie, deel van die ontelbare menigte voor sy  troon in die hemel sal wees.

Tema: Die ontelbare skare verloste gelowiges feestelik voor God se troon

  1. God vergader ‘n menigte voor sy troon

In Openbaring 7:9-17 het ons die tweede gesig in hierdie hoofstuk. In die eerste gesig, Openbaring 7:1-8, het Johannes 144 000 verseëldes gesien. Die verseëldes is hulle van aan God behoort. Die honderd-vier-en-veertigduisend is die volle getal van gelowiges in die hemel voor God se troon.

In die tweede gesig is daar ‘n skare wat niemand kan tel nie voor die troon. Johannes het deur die Heilige Gees van ‘n groot menigte geskryf. Hierdie menigte is dieselfde as die honderd-vier-en-veertigduisend – al God se kinders en erfgename in sy ewige genadeverbond.

Hierdie is ‘n geweldige en terselfdertyd ‘n wonderlike gesig wat die Here Jesus Christus vir Johannes gewys het. Om die wonder an hierdie menigte te besef, is dit nodig om na die Ou Testament toe te gaan.

Die dag toe die Here die genadeverbond met  Abraham gesluit het, het die volgende gebeur: “Die Here het Abraham buitentoe laat gaan en vir hom gesê: ‘Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan…..so baie sal jou nageslag wees’’ (Gen.15:5). Abraham kon nie, niemand kan die sterre tel nie. Johannes sie met hierdie gesig van die menigte wat niemand kan tel nie, dat God ewig volmak getrou is en sy beloftes altyd waar maak.

Hierdie ontelbare menigte is deur God self voor sy troon gebring. Hy het almal wat aan Hom behoort het bewaar. Hy het ook die plek voor sy troon bewaar vir die dag dat Hy al sy kinders en erfgename daar voor Hom sal hê.

In hierdie gesig het ons die einddoel van God se plan met ons, sy kinders en erfgename: Almal saam daar voor die troon van die allerhoogste en ewige God, ons Vader met die gekruisigde Jesus Christus, ons Verlosser, ook daar.

  1. Die skare kom van oor die hele wêreld

Die tweede wat ons van hierdie menigte wat niemand kan tel nie, lees is dat hulle uit alle nasies, stamme, volke en tale kom. Hierin sien ons God se genade deur die geskiedenis van die mensdom.

Abraham was ‘n Chaldeër. God het met Hom sy ewige genadeverbond gesluit en met sy nageslag. Met Jakob se seuns het dit duidelik geword dat die verbondsvolk Israel sal wees, met veral Juda uit wie se geslag die beloofde Verlosser gebore sou word.

In hierdie verbondsnageslag het God vir Ragab die Kanaänitiese vrou ingeneem. Hy het ook vir Rut uit Moab in sy genadeverbond opgeneem. God se Seun sou uit die nageslag van Boas en Rut gebore word.

In die Nuwe Testament lees ons van die Samaritaanse vrou (Joh.4); die Romeinse offiier (Matt.8) en die Etiopiër vir wie Filippus Jes.53 verduidelik het (Hand.8), wat in die genadeverbond opgeneem is. Tydens Paulus se tweede sendigreis (Hand.16) en sy derde sendigreis (H18,19) het mense in Europa die Evangelie gehoor en geglo en ook hulle het kinders en erfgename in God se genadeverbond geword.

Vanuit Europa het die Evangelie na die res van die wêreld versprei tot aan die uithoeke van die aarde, soos die Here Jesus net voor sy hemelvaart gesê het (Hand.1:8). Mense uit alle nasies, stamme, volke en tale het die boodskap van die gekrusigde Christus wat uit die dood opgestaan het gehoor en in Hom geglo. Ook ons hier aan die suidpunt van Afrika het gehoor en geglo en kinders en erfgename in die genadeverbond geword.

Deel van God se plan met ons wat deur Christus gered is, is dat ons ander van Christus sal vertel, sy getuies sal wees, sodat ook ander uit alle nasies, stamme, volke en tale kan hoor en kan glo en gered word.

  1. Dié wat deur die gekruigde Christus gered is, is daar

Een van die ouderlinge daar voor die troon van die Allerhoogste God het ‘n vraag vir Johannes gevra. Die ouderling was reeds voor die troon. Hy het geweet Johannes het hierdie vraag in sy hart, daarom vra hy: “Hierdie mense met die wit klere aan, wie is hulle en waar kom hulle vandaan?” (Vs 13).

Johannes, nietige mens kon maar net antwoord: “Ek weet nie Meneer….maar u weet” (vs 14).  Die ouderling het Johannes toe geantwoord. Sy antwoord is vir ons ook bedoel:

  • Die ontelbare menigte is dié wat uit die groot verdrukking kom. Hierdie woorde gaan oor die groot verdrukking net voor die wederkoms van Jesus Christus.
    Ons moet weet die groot verdrukking kom nog oor die hele wêreld. Die Here Jesus het daarvan gepraat toe Hy nog op aarde was: “Bid dat julle nie in die winter of op ‘n sabbatdag hoef te vlug nie, want in daardie tyd sal daar so ‘n groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nie was nie en ook nie weer sal wees nie. En as dit nie was dat God daardie tyd ingekort het nie, sou geen mens dit oorleef nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal God daardie tyd inkort” (Matt.24:20-22).
  • Die menigte het hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam, die gekruisigde Jesus. Die Grieks is so geskryf dat gewas en wit gemaak, beteken dit het eens en vir altyd in die verlede gebeur. Die gekruisigde Jesus Christus se bloed was elkeen skoon van sonde en maak my heeltemal nuut, sodat ek ‘n nuwe mens is en vir ewig sal bly.
    Daar is voor die troon van God net plek vir elkeen wat deur die bloed van Jesus Christus van sonde skoongemaak is en deur geloof in Jesus in die regte verhouding met God geleef het. Lewe op aarde het alles te doen met ons verhouding met Jesus Christus.
  • Hierdie skare dien God dag en nag. Die ontelbare menigte die God met gebede en gehoorsaamheid. Hulle lewe ewig by God en vir Hom.
  • Hulle sal nie meer honger en dors kry nie. Die beeld wat Johannes gebruik beteken al die behoeftes van ‘n gelowige se siel na God sal volmaak vervul wees. Die Here Jesus se woorde in Kapernaum:”Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie” (Joh.6:35) word volmaak waar.
  • Die son en maan wat nie pla nie, wys dat niks wat so dikwels hier op aarde gehinder en seer gemaak het, meer deel sal wees van die Chirstengelowiges se lewe daar  by God voor sy troon nie.

Die enigste manier om voor die troon van God te kan staan is die GEKRUISIGDE JESUS CHRISTUS! Net Hy maak deur sy kruisiging en opstanding die pad tot voor God se ewige troon oop. Die voorhangsel van die tempel het geskeur. Die pad na God toe is oop. Glo daarom deur die Heilige Gees met ‘n opregte hart in die Here Jesus as ons ENIGSTE VERLOSSER EN SALIGMAKER!

God se plan is om ons deur Christus daar voor sy hemeltroon te bring om die ewige vomaakte lewe as erfdeel te ontvang.

  1. Lewe by God is ‘n ewige hemelse fees
  • Die menigte het palmtakke in die hand. Dit getuig van feestelikheid. Die hemelse fees is ‘n ware fees. Die palmtakke wat tydens Jesus se intog in Jerusalem voor Hom gelê is, was ‘n valse fees deur die Jode wat ‘n aardse koning verwag het. Hulle het toe nie besef wie Jesus regtig was nie. Hierdie skare weet Jesus is die hemelse Verlosserkoning.
  • Lewe by God in die hemel is ‘n ewige fees, want niks wat lewe op die aarde so swaar so seer gemaak het, sal deel van die die skare voor God se troon wees nie. Ons Herder wat uit liefde aan die kruis gesterf het en uit die dood opgestaan het, sal daar by ons wees. Hy gee hemelse oorvloed aan elkeen daar by Hom. Hy is alles, besit alles en Hy voorsien alles. Die trane wat so deel van die aardse lewe was, sal heeltemal afgevee word, sodat geen gelowige ooit weer ‘n traan sal stort nie.
  • Johannes sien die skare roep hard uit: Redding kom deur God en deur die Lam! Een van die belangrikste eeue oue waarhede in die Bybel word gehoor. Geen mens verlos homself nie! Verlossing kom net uit genade. God alleen verlos ons en dan net deur Jesus Christus wat gesterf en opgestaan het.
  • Saam met die skare het Johannes die 24 ouderlinge en engele en lewende wesens gesien. Hulle het voor die troon gekniel met hulle gesigte na die grond toe. Hulle het God aanbid en gesê: Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, dank en die eer , die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. Amen!. Met hierdie gebed het Johannes gehoor dat God alles en in almal is.

5. ‘n Slotwoord

Reeds die dag van ons doop, vertel God ons van sy plan met ons lewe en gee Hy ‘n teken van hierdie ewige volmaakte plan. Ons word gedoop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees gedoop. Ons doop in die Naam van die Heilige Gees is vanoggend belangrik. Gedoop in die Naam van die Heilige Gees beteken die Heilige Gees verseker ons dat Hy in ons wil woon, ons een met Christus wil maak en ons so lei dat ons eendag met die wederkoms van Christus saam met al die uitverkorenes voor die troon van God sal verskyn.

In Openbaring 7:9-17 vertel Johannes ons dat hy presies dit gesien het!

ANTWOORD
Sing: Skb.18-1:4,5,6
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.2-4:1,3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen