Home Preke God se volmaakte plan vir ons Om oud te word volgens God se plan

Om oud te word volgens God se plan

Datum: 2025-03-30
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Spr.16:31; Jes.46:3,4

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy  troon; en van Jesus Chrisus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.84:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.119:6,7
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.84:3,4
Lees: Spreuke16:31; Jesaja 46:3,4; 1 Petrus 3:8-12
Kernverse:Spr.16:31; Jes.46:3,4
Tema: Om oud te word volgens God se plan.
Sang: Ps.84:1,2; Ps.9:1,7,10; Ps.119:6,7; Ps.84:3,4; Ps.31:1,5; Ps.84:5,6

Inleiding:

In die reeks oor God se plan vir ons lewe het ons reeds gesien dat die Here Jesus Christus in die middelpunt van hierdie plan staan in ‘n mens se kinderjare en in die jeugjare. Vanoggend is ons by God se plan vir oud word. Ook in hierdie deel van sy plan, neem die Here Jesus Christus die belangrikste plek in.

Tema: Om oud te word volgens God se plan.

  1. Om oud te wees, is ‘n sierlike kroon.

Spreuke is een van die wysheidsboeke in die Bybel. Prediker en Psalms is ook wysheidsboeke. Daar is nog meer. Die wysheidsboeke gaan oor die Here se wil in die lewe van elke dag, wat sy wil is en hoe om sy wil te doen.

Jesaja is een van die profete. Die hooftaak van die profete was om te sê: So sê die Here. Die profete het die Here se wil vir die hede en sy wil vir die toekoms aan die verbondvolk bekend gemaak.

Die tema vir vanoggend se preek “Om oud te word volgens God se plan”,  kom daarom uit ‘n wysheidsboek en ‘n profetiese boek van die Ou Testament.

Ons kyk eers na die wysheidsboek, Spreuke.

Spr.16:31 begin met “Ouderdom is ‘n sierlike kroon”. Die Heilige Gees het hierdie woorde laat neerskryf. Dit is dus in werklikheid God wat so sê. Daarom het ons nodig om te verstaan wat die Here met  hierdie woorde bedoel.

In die lewe sien en hoor ons die volgende twee dinge oor ouderdom:

Aan die eenkant: Daar is niks sierlik aan ouderdom nie. Ouderdom gaan gepaard met allerhande siektes, swakheid en vergeetagtigheid. In ons tyd is ou mense agter die tyd, want hulle is nie goed genoeg met die nuwe tegnologie in ‘n vinnig veranderende wêreld nie. Dan is ou mense se waardes ver agter die tyd.

Aan die anderkant: Om oud te word, het baie voordele. Ou mense geniet geldelike voordele met  spesiale aanbiedinge by banke en winkels en baie ander plekke. Ou mense hoef nie in rye te staan en wag nie. Hulle word gewys om voor die die ry te kom staan. Spesiale programme word vir ouer mense gereël deur verskillende organisasies.

Dit is wat in ons lewe met ou mense gebeur. Daar is meer wat  gesê kan word, maar vir vanoggend se preek is hierdie genoeg.

Hoe pas die woorde van Spr.16:31 oor die ouderdom in ons lewe in?
Hoe is ouderdom ‘n sierlike kroon?

Dit is genade, wonderlike genade dat ons in die Bybel kan lees dat ouderdom ‘n sierlike kroon is en nie net ‘n lastige en swaar deel van die lewe nie, ook nie net swaarkry en hartseer en sukkel nie.

In Hebreeus staan daar: Grysheid is ‘n sierlike kroon. Sierlike kroon het te doen met eer en respek.

Die Here praat in Spr.16:31 van die grysheid van gelowiges. Wanneer ons gelowige ou mense sien en hoor, sien en hoor ons lewenservaring, getuienis van ‘n geseënde lewe. Dit is verder mooi om ouer mense te sien wat steeds leef en dinge doen. Om hierdie rede word ou mense gewoonlik met eer en respek behandel.

Maar is lewenservaring en ‘n lang lewe genoeg rede om ouderdom ‘n sierlike kroon te maak, sodat ou mense met eer en respek behandel word?

Hierdie vraag bring ons by die tweede deel van Spr.16:31 en ook die tweede kerngedagte  onder die tema.

2. Geregtigheid voor God is baie belangrik.

In die 83 vert. staan in die tweede deel van Spr.16:31 dat ‘n sierlike kroon bereik word “deur dié wat reg lewe”. In die 53 vert. staan dat ‘n sierlike kroon gevind word “op die weg van geregtigheid”.

Hierdie deel van vs.31 antwoord die vraag hoe ouderdom ‘n sierlike kroon kan wees – op die weg van geregtigheid.

Die sierlike kroon gaan dus oor meer, ons kan sê baie meer as ‘n hoë ouderdom, of baie lewenservaring of ‘n helder verstand en aktiewe lewe ten spyte van ouderdom.

God se geregtigheid of die regte lewe soos God wil, dit is die werklike sierlike kroon van die grysheid.

Hoe en waar is die “weg van geregtigheid” of hoe leef ‘n ou mens reg?

Die antwoord op hierdie vraag kry ons op soveel plekke  in die Bybel. 1 Pet.3:8-12 is een van daardie dele in die Bybel waar die Here ons leer hoe lyk ‘n lewe wat vir Hom reg is, hoe lyk die weg van geregtigheid –

Vs 8 – Eensgesind met ander, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig.
Vs 9 –  Deur nie kwaad met kwaad te vergeld nie of belediging met belediging nie. Inteendeel! Die regte lewe voor die Here is om kwaad en belediging met ‘n seënwens te antwoord.
Vs 10 – Weerhou jou tong van kwaadpraat en lippe van leuens.
Vs 11 – Bly weg van die kwaad af. Doen wat goed is. Jaag vrede na.
Vs 12 – Leef opreg.

Wanneer ons al hierdie dinge ons hele lewe deur oral en altyd gedoen het, soos God van ons verwag het, het ons reg gelewe, was ons op die weg van geregtigheid.

Die volgende is belangrik: Om reg te lewe beteken in Spr.16:31 om reg te lewe voor die Here soos Hy wil. Om reg te lewe voor die Here is daarom meer as om te probeer. Die Here vra dat ons volmaak reg voor Hom sal lewe.

In sy onderrig teen een van die berge in Kapernaum se omgewing het die Here Jesus ons geleer hoe om reg voor God te lewe: “Wees julle dan volmaak, soos julle hemelse Vader volmaak is” (Matt.5:48).

‘n Regte lewe is daarom volmaakte eensgesindheid, volmaakte goedhartigheid, volmaakte nederigheid, en volmaakte goedgesindheid waarmee ons iemand wat ons kwaad aandoen of beledig, seën toewens en al die ander dinge wat in 1 Pet.3:8-12 en al die ander dele van die Bybel oor ‘n regte lewe voor die Here geskryf staan.

Elke ou mens, elke gelowige wat reeds oud is en elke gelowige wat besig is om oud te word, sal voor die Here moet erken, moet bely dat hy of sy dit nie reggekry het om reg voor Hom te lewe soos Hy van ons verwag het nie. Trouens, ons sal moet erken dat ons lewe ver van volmaak af was.

Gelowiges wat oud geword het, kan nie verskoning maak en redeneer: Maar geen mens is volmaak nie. Die Here Jesus het met mense gepraat toe Hy gesê het: “Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is(Matt.5:48).

Daardie woorde in Matt.5 en die woorde in Spr.16 staan vir elke gelowige vas. Dit is God se plan hoe ‘n gelowige kind van Hom oud sal word. Dit is sy plan hoe ouderdom, grysheid ‘n sierlike kroon sal wees: Deur reg te lewe, op die weg van geregtigheid.

Dit bring ons by die profetiese boek vir vanoggend, Jesaja en wel Jes.46:4,5.

3. Dit is al die jare die Here wat dra en red.

Elke gelowige ou mens wat voor die Here staan in die jare van ouderdom, sal moet erken dat hy of sy dit baie keer nie reggekry het om reg te lewe nie. Ou mense se sondigheid in die verlede verander niks aan God se plan nie.

Jesaja vertel ons en leer ons hoe God sy plan uitvoer. Die Here praat deur Jesaja met sy verbondsvolk, sy gelowiges wanneer Hy die volgende sê: “Luister na My, nageslag van Jakob,

almal wat oor is uit die nageslag van Israel, julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red” (Jes.46:4,5).

Die Here help. Hy bring ons by die regte lewe. Hy hou ons vas. Hy dra ons. Hy red ons.

Hoe doen die Here dit?

Hy gee sy Seun vir ons. God se Seun word mens deur ‘n almagtige wonder. Sy Naam is Jesus, Verlosser. Jesus, ons Verlosser neem ons sonde op Hom. Hy is volmaak gehoorsaam aan sy Vader wanneer Hy die bitterste lyding in ons plek vir ons sonde verduur. Hy is volmaak gehoorsaam aan sy Vader wanneer in ons plek vir ons sonde aan die kruis sterf.

Deur vir ons te sterf het die Here Jesus ons van ons al ons sondes, ook ons sondige onvolmaaktheid verlos.

Jesus, Ons Verlosser het vir ons op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy ons nuwe lewe gegee.

Deur Jesus Christus se dood en opstanding is ons verlos, vergewe en vrygespreek van al ons sonde en alle straf en oordeel. Deur Jesus Christus is ons verloste nuwe mense, gered van die verkeerde lewe, gered van die weg van ongeregtigheid. Jesus, ons Verlosser het ons oorgebring na die regte lewe, die weg van geregtigheid.

Elkeen wat in die Here Jesus Christus glo, het die Heilige Gees. Die Heilige leef in ons. Hy lei elke gelowige wat aan Christus behoort om reg te lewe, om op die weg van geregtigheid te lewe. Beheers deur die Heilige Gees, leef ons nie soos ons wil en soos ons dink reg is nie. Ons leef soos God wil.

Dit is alleen met die Here se hulp en sy redding dat ouderdom ‘n sierlike kroon is. Die werklike sierlike kroon is Jesus Christus in die lewe van ‘n ou mens. Wanneer ‘n gelowige wat oud geword het, die Here Jesus in sy of haar lewe het, is ouderdom werklik ‘n sierlike kroon, want so ‘n lewe is nie ‘n verlore lewe nie, nie ‘n tevergeefse lewe nie, nie ‘n lewe sonder betekenis nie. So ‘n lewe is op pad na die ewige oorwinnaarskroon wat op elke gelowige wag.

Die eer en respek wat ons vir iemand  het wat oud geword het, is in werklikheid eer en respek omdat die gelowige die Here Jesus in hom of haar het en op pad is na ons Vader se ewige huis, waar Jesus besig is om plek gereed te maak.

Wanneer ‘n gelowige oud geword het, met Jesus Christus in sy of haar lewe, dan is ouderdom regtig ‘n sierlike kroon, want dan het so iemand oud geword volgens God se volmaakte plan.

ANTWOORD
Sing: Ps.31:1,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.84:5,6
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn nen julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen