Home Preke God se volmaakte plan vir ons God gee vir ons wedergeboorte en geloof om in die genadeverbond te leef

God gee vir ons wedergeboorte en geloof om in die genadeverbond te leef

Datum: 2025-02-23
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Joh.3:3,16

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.146:1,8
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.32:1
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.31:15,17
Lees:Johannes 3:1-21
Kernverse: Joh.3:3,16
Tema: God gee vir ons wedergeboorte en geloof om in die genadeverbond te leef.
Sang: Ps.146:1,8; Ps.71:9; Ps.32:1; Ps.31:15,17; Ps.84:3,6; Ps.98:1,2

Inleiding:

Ons is besig met die preekreeks: God se plan vir my lewe .Vanoggend is ons by ons Here God se plan dat ons met wedergebore harte in sy genadeverbond sal leef.

Tema: God gee vir ons wedergeboorte en geloof om in die genadeverbond te leef.

  1. Koninkryk en die genadeverbond.

Die vorige preek het gegaan oor God se plan vir ons lewe om in sy genadeverbond te wees. Vanoggend lees en hoor ons die Here Jesus Christus se woorde dat indien ‘n mens nie wedergebore word nie, jy nie die koninkryk van God sal sien nie.

Ons het dus in die Bybel die ewige genadeverbond van God en ons het die ewige koninkryk  van God. Dit bring ons by die vraag: Hoe moet ons die verbond en die koninkryk sien? Is dit twee verskillende dinge? Is die koninkryk en die verbond dieselfde net verskillende woorde?

Vir vanoggend, die volgende oor die koninkryk:

  • God  is die allerhoogste koning wat regeer. Dat God in sy koninkryk regeer, kry ons reeds in die eerste hoofstuk van die Bybel.
  • Hy regeer sy gelowiges binne sy koninkryk deur sy Woord en sy Gees, en sy gelowiges onderwerp hulle aan Hom.
  • ‘n Mens kom net in die koninkryk deur wedergeboorte.
  • Lewe in die koninkryk van God is lewe in gehoorsaamheid onder sy regering.
  • Die kerk is die teken van die koninkryk van God.
  • Die belofte van die koninkryk is die ewige lewe van ewige oorwinning oor die bose wanneer Jesus Christus weer kom.

Kyk ons na die genadeverbond, is die volgende vir vanoggend belangrik:

  • Die verbond is ooreenkoms van God dat Hy uit genade Abraham en sy nageslag se God sal wees.
  • God se genadeverbond kry ons in Genesis 15 en 17.
  • Net gelowiges is in die genadeverbond.
  • Lewe in die genadeverbond is lewe in geestelike gemeenskap met God waar Hy op ‘n nuwe manier gehoorsaam word.
  • Die doop is die teken van die verbond.
  • Die belofte van die verbond  is  kinders en erfgename van die ewige heerlikheid wanneer Jesus Christus weer kom.

In die KONINKRYK van God gaan dit daaroor dat HY REGEER met DIE KERK AS TEKEN dat God gelowiges deur sy Woord en Gees regeer.

In die GENADEVERBOND gaan dit oor die GEESTELIKE GEMEENSKAP tussen God en sy gelowiges met DIE DOOP AS TEKEN van die verbond.

Ons kan sê: God neem ons op in sy genadeverbond, sodat ons in sy koninkryk onder sy regering kan leef. Maar…én die koninkryk én die verbond gaan altwee daaroor dat God sy verlossingswerk in ons lewe werklikheid laat word.

Waarom is dit nodig om oor die koninkryk van God en sy genadeverbond te praat? Ons kry die koninkryk en die verbond in die Bybel. Die Heilige Gees het dit laat neerskryf en bewaar, sodat ons kan lees en glo.

Vir vanoggend se preek, gaan dit verder oor wedergeboorte en geloof in die genadeverbond.

  1. Wedergeboorte deur die Gees.

Iemand is vanself in die genadeverbond nie. ‘n Baie groot verandering in ‘n mens se lewe is nodig om in die genadeverbond te kom. Hierdie verandering is:  ‘n Wedergebore hart wat in God glo.

Omdat wedergeboorte lewensnoodsaaklik en so belangrik is, is dit nodig dat ons almal sal weet wat wedergeboorte is.

Vanoggend lusiter ons na Jesus hoe Hy Nikodemus, ‘n Bybelgeeerde van die Jode, oor wedergeboorte en die belangrikheid daarvan geleer het. Wat Jesus Nikodemus geleer het, het elkeen van ons ook nodig om te leer.

In sy gesprek met Nikodemus het Jesus Christus oor ‘n lewensbelangrike waarheid met hom gepraat. Die lewensbelangrike waarheid was wedergeboorte.

Elke mens het twee geboortes nodig. Die eerste geboorte: Jy word uit die mens gebore. Dit is jou natuurlike menslike geboorte om op aarde te kan lewe. Geboorte en lewe is ‘n wonderlike genade van God. Hierdie geboorte gee lewe vir ‘n tyd hier op aarde.

Dan is daar die tweede geboorte: Geboorte uit die Gees. Dit is jou geestelike geboorte om as gelowige ewig te kan lewe. Hierdie tweede geboorte is jou wedergeboorte. Wedergeboorte om ewig te kan lewe is ‘n nog wonderliker genade van God, as mens so mag sê. Elke mens op aarde het ‘n eerste geboorte. Nie elke mens op aarde het ‘n tweede geboorte, wedergeboorte nie. Wedergeboorte is geboorte om ewig te lewe, ook na die tydelike lewe op aarde, in ewigheid.

Wat is wedergeboorte? ‘n Kort beskrywing klink so: Wedergeboorte is die begin van nuwe lewe in ‘n mens.

Hoe word ‘n mens wedergebore?

  • Wedergeboorte gebeur nie deur ‘n mens nie. Niks wat enige mens doen, kan wedegeboorte veroorsaak nie. Dit is regtig baie belangrik om te weet, te besef en te glo.
  • Wedergeboorte is verder nie iets natuurliks by ‘n mens nie. Hierdie is ook baie belangrik om te weet. Elke mens word ook nie wedergebore nie, net die mens wat hierdie groot genade by God kry.
  • Hoe gebeur wedergeboorte dan wel? Wedergeboorte is die werk van die Heilige Gees. Die Heilige Gees begin nuwe lewe in ‘n mens. Die Gees begin hierdie nuwe lewe deur God se Woord. Binne die genadeverbond kan die Gees ook direk in ‘n mens se hart werk. Dit is die troos wat gelowige ouers het, indien hulle baba baie vroeg sterf, sonder dat die kleintjie Christus se Evangelie kon hoor en glo. Presies hoe die Gees wedergeboorte werk, kan ons nie sê nie, want in Jesus se woorde aan Nikodemus daardie aand “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is” (Joh.3:8).

Wanneer gebeur wedergeboorte?

  • Omdat wedergeboorte ‘n geestelike werk deur die Heilige Gees in die binneste van ‘n mens is, kan ‘n mens nie presies sê nie.
  • Ons kan wel aflei dat wedergeboorte op ‘n bepaalde tyd in jou lewe kan gebeur wanneer ons dink aan Paulus op pad Damaskus toe (Ha.9).
  • Dan kan wedergeboorte deur die Gees ook gebeur nog voor jou natuurlike geboorte wanneer ons dink aan wat die Here vir Jeremia gesê het (Jer.1:5).
  • Wanneer ons aan Timoteus dink wat van kleins af die Evangelie van Christus gehoor het, kan wedergeboorte oor ‘n hele tyd gebeur (2 Tim.3).

Hoe nodig is wedergeboorte?

Uit wat Jesus Christus self gesê het, is dit duidelik: Sonder wedergeboorte bly elke mens in die mag van die duiwel en sonde, buite die koninkryk en buite die genadeverbond. So iemand sonder wedergeboorte het net een bestemming: Die ewige dood onder God se ewige oordeel in die hel.

Die mens wat wedergebore is, is ewig aan God gebind, leef nou met Hom onder sy sorg en sal na die lewe op aarde ewig met Hom in die hemel leef. Ons wedergeboorte is dus ‘n saak van lewe en dood. Dit maak ons wedergeboorte baie, baie belangrik vir ons.

Miskien is ‘n belangrike vraag op hierdie stadium in jou gemoed die volgende: Hoe ek kan weet of ek wedergebore is?  Ek kan tog nie my hele lewe in hierdie onsekerheid leef nie.

Dit bring ons by die volgende deel van God se plan met ons oor lewe in sy genadeverbond.

  1. Geloof in ‘n wedergebore hart.

Die eerste bewys of teken of vrug wat vir my wys dat ek wedergebore is, is my geloof in die Here Jesus Christus.

Luister na Paulus hieroor in 1 Kor 12:3 “Niemand kan sê Jesus is Here nie, behalwe deur die Heilige Gees”. Die Heilige Gees wat ons wedergebore laat word het, plant ook geloof in die Here Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, in ons hart.

Geloof is ‘n geskenk van God. So het Paulus deur die Heilige Gees geskryf: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God” (Ef.2:8). Die eerste belangrike waarheid is dat geloof ‘n geskenk van die Heilige Gees is.

Ons kry geloof net op een manier. Dit is so belangrik. Die enigste manier is dat die Heilige Gees aan ons  geloof gee, deur die evangelie van Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het. Daar is baie vals gelowe vandag in die wêreld. Die enigste ware geloof kom van die Heilige Gees en deur die evangelie van Jesus Christus.

Een voorbeeld van hierdie waarheid is Paulus wat die gekruisigde Jesus aan die Korintiërs verkondig het (1 Kor.2:2). Deur die evangelie van die gekruisigde Jesus het heidene in Korinte geglo.

God se plan met mense in die stad Korinte en sy plan met ons vandag is dat ons met geloof in ons wedergebore harte in die genadeverbond sal leef. Ons kry God se wonderlike plan van genade en liefde in Joh.3:16-21

  • God het uit liefde vir die wêreld sy Seun gegee om te sterf  en op te staan.
  • Elkeen wat in Jesus Christus, die gekruisigde Seun van God wat ook opgestaan het glo, het die ewige lewe en gaan nie meer verlore nie.
  • Wie in God se Seun glo, word nie veroordeel nie, maar wie nie in Hom glo nie, is reeds veroordeel.
  • Geloof in Jesus Christus, God se Seun, skei mense in twee groepe: Lig en duisternis. Lig is die mense wat in Jesus Christus glo en die ewige lewe het. Duisternis is die mense wat nie in Jesus glo nie en in die mag van sonde bly.
  • Almal wat nie in Jesus Christus glo nie, bly in die duisternis en leef in die duisternis. Elkeen wat in die Here Jesus glo, leef as gelowige verloste mens.
  1. Lewe as wedergebore gelowige.

Geloof is nie iets geestelik wat binne ons lê nie. Geloof lewe. Geloof doen. Een hele brief in die Nuwe Testament gaan  juis hieroor: Geloof doen! Dit is die brief van Jakobus, Jesus se een broer.

Ons kry hierdie belangrike waarheid ook in Joh.3:20,21. Wie nie met ‘n wedergebore hart in Jesus Christus glo nie, bly in die duisternis, bly in die mag van die sonde en die dood.

Teenoor die mens in die duisternis, kry ons  die mens in die lig. Die mens in die lig is die mens wat met ‘n wedergebore hart in Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, glo.

  • Hierdie mens in die lig handel volgens die waarheid. Die waarheid is Jesus Christus self. ‘n Wedergebore gelowige leef vir Christus. Hoe om vir Hom te leef, kry ek op baie plekke veral in die Nuwe Testament.
  • Hierdie mens kom na die lig toe. Dit is: ‘n Wedergebore gelowige breek met die lewe van die duisternis. Ons breek met die duisternis deur opreg berou oor sonde te hê, sonde te haat en van sonde weg te vlug. Om na die lig toe te kom, is: Liefde vir God waar ons graag sy wil soek en doen, ‘n lewe volgens sy wet en ‘n lewe waar Hy die eer ontvang.
  • Hierdie mens gehoorsaam God deur dade. Geloof in ‘n wedergebore hart praat nie net nie. So ‘n geloof lewe! So ‘n geloof doen! Geloof wat tot dade oorgaan is ‘n getuienis van opregte geloof in Jesus Christus ons Here!

Dit is dan God se plan vir ons lewe: Wedergebore harte en geloof in die genadeverbond.

ANTWOORD
Sing: Ps.84:3,6
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.98:1,2
Seën: Die genade van  ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen