Home Preke God se volmaakte plan vir ons Gelowiges se kinderjare is deel van God se plan

Gelowiges se kinderjare is deel van God se plan

Datum: 2025-03-09
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Luk.2:52

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.150:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19
Antwoord op die Wet: Skb.9-3/70:1
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.71:1,4
Lees: Lukas 2:41-52
Kernvers: Luk.2:52
Tema: Gelowiges se kinderjare is deel van God se plan.
Sang: Ps.150:1,2; Ps.9:1,7,10; Skb.9-3:1; Ps.71:1,4; Ps.71:9,10,11; Ps.105:1,3,5.

Inleiding:

Daar is verse in die Bybel wat lyk asof dit net ‘n deel afsluit, sodat mens nie nodig het om soveel aandag daaraan te gee nie. Gen.24:67 nadat Rebekka uit ‘n ver land by Isak aangekom het, is so ‘n vers wat lyk asof dit net wat gebeur het, afsluit. Luk.2:52 is ook so ‘n vers. Dit lyk of die geskiedenis van die besoek aan die tempel en Jesus wat in Jerusalem agtergebly het met sy ouers wat Hom gesoek  het en in die tempel gekry het, afgesluit word met ‘n opsomming van Jesus se kinderjare. Wanneer ons as gelowiges hierdie vers met aandag lees, kom ons agter dat die Heilige Gees ons hier baie leer oor God se plan vir ons  lewe.

Tema:Gelowiges se kinderjare is deel van God se plan.

  1. Ons is kinders en erfgename in die genadeverbond.

Die genadeverbond is ‘n ooreenkoms wat God met Abraham en sy nageslag gesluit het. Die verbond is meer as  net ‘n gewone ooreenkoms. Die verbond is soos ‘n testament. Toe God die genadeverbond met Abraham en sy nageslag gesluit het, het Hy in werklik vir Abraham gesê dat hy en sy  nageslag vir ewig kinders en erfgename in God se testament van die ewige lewe sal wees.

Die genadeverbond is  die enigste ooreenkoms, die enigste testament wat God het. Sy plan met ons is dat ons in sy genadeverbond sal leef. Daarom het Hy die verbond met Abraham en sy nageslag gesluit. Ons weet, want die Here sê dit vir ons in die Bybel, dat almal wat aan die Here Jesus Christus behoort, dit is in Hom glo, is ook deel van Abraham en sy nageslag. Jesus Christus het ons deur sy dood en sy opstanding kinders en erfgename in die genadeverbond gemaak.

God se plan is verder dat ons met  wedergebore harte vol geloof in die genadeverbond sal leef. Wedergebore gelowiges se roeping is om as God se beeld in die genadeverbond hier op aarde te leef.

Al hierdie dinge  is deel van God se plan vir sy kinders en erfgename in sy genadeverbond. Volwasse gelowiges is kinders en erfgename in God se genadeverbond. Kinders van gelowige ouers is eweneens kinders en erfgename in die genadeverbond.

Dit bring ons by een van die redes waarom hierdie laaste vers in Luk.2 so belangrik is. Jong kinders is ook kinders en erfgename in die genadeverbond, want gelowiges se kinderjare is ook deel van God se plan.

2. Jesus Christus is ons voorbeeld van groei as mens in die genadeverbond.

God die Vader het Jesus Christus, sy Seun aarde toe gestuur om hier ons hoogste Profeet en Leraar te wees. Hierdie deel van die Here Jesus se verlossingswerk het beteken dat Hy ons moes vertel en leer van God se verlossingsplan vir ons lewe.

Jesus was in alles altyd volmaak gehoorsaam aan sy Vader. Hy het altyd in alles wat Hy gesê en gedoen het, sy Vader volmaak gehoorsaam en sy Vader se opdrag volmaak uitgevoer.

In Luk.2:52 kry ons wat in Jesus se kinderjare gebeur het. Wat ons in hierdie vers lees, het nie sommer net gebeur nie. Jesus self het aktief baie as Seun van God en oudste kind van Josef en Maria gedoen tydens sy  kinderjare. Hierin is Hy ‘n baie goeie voorbeeld vir ons van groei as mens in die genadeverbond.

Kom ons luister net weer na die vers: “En Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem” (Luk.2:52).

In hierdie vers wat die Heilige Gees deur Lukas, die mediese dokter in die Evangelie van Jesus Christus laat neerskryf het, leer ons vier baie belangrike dinge oor groei as gelowige mens in die genadeverbond.

Jesus het verstandelik gegroei. Die ouerhuis was in die eerste die plek waar kinders in die Ou en Nuwe Testament moes leer. In die beginjare het die ma van die kind ‘n belangrike rol gespeel in die onderrig en verstandelike ontwikkeling van hulle kinders. Later het die pa die onderrig van die seun oorgeneem.

God en sy Woord het ‘n sentrale plek in die lewe van verbondskinders  ingeneem. Kinders moes byvoorbeeld die betekenis van die pasga leer en onthou (Eks.12:26,27). Kinders moes die gebooie wat hulle ouers hulle ingeskerp het, leer ken en onthou en in hulle lewe toepas (Deut.6:4-7). Kinders moes die groot dade van God wat hulle ouers vertel en geleer het, verstaan en glo en onthou, om dit weer aan hulle kinders oor te  kan dra (Ps.78:3-8).

Die tempel en die sinagoge en ook ander inrigtings was plekke waar kinders onderrig is en verstandelik kon groei.

Uit die gegewens in die Bybel kry ons die volgende: Kinders moes leer, onthou, begrip en insig ontwikkel om so verstandelik te groei. Wat die kinders geleer het, het altyd verband gehou met hulle lewe in die genadeverbond en hulle verhouding met God. Hierdie het Jesus gedoen.

Ouers het vandag steeds die groot taak om alles in hulle vermoë te doen, dat kinders verstandelik kan groei. ‘n Boek is daarom steeds ‘n baie beter geskenk as ‘n selfoon. Kinders moet self ook verstandelik groei. Dit sal gebeur wanneer kinders leer, onthou en gebruik wat geleer is.

Dan is ons as gelowiges kinders en erfgename in die genadeverbond. Alles wat ons leer en verstandelik laat  groei, moet ons in die genadeverbond laat groei. Daar moet ook ‘n balans wees tussen leer en onthou by die skool en leer en onthou by huisgodsdiens en katkisasie.

Jesus het liggaamlik gegroei. Sy ouers het Hom ‘n huis gegee waar Hy kon eet en slaap en as kind leef. Wat Jesus in sy ouerhuis geleer en gedoen  het, het Hy verder in sy lewe toegepas – Hy het deur ‘n wonder baie mense wat honger was kos gegee met vyf brode en twee visse (Joh.6). Hy het sy dissipels na Hom toe geroep om te kom rus en hulle kragte te herwin (Matt.11).

Ons liggaam behoort ook aan Jesus Christus, ons Verlosser. Ons liggame is verder ‘n tuiste vir die Heilige Gees. Daarom het ons nodig om na ons liggame te kyk reeds van ons kinderjare af. Ouers het die eerste hierdie verantwoordelikheid en daarna kinders self.

Jesus het in guns by God toegeneem. Hierdie woorde beteken dat Jesus in sy verhouding met God, sy Vader gegroei het. Jesus was ‘n ware mens soos ons. Hy was ‘n ware kind wat moes groei in sy verhouding met God. Dit het Jesus gedoen. Reeds die paasfees toe Hy in die tempel was, was die mense wat Hom gehoor het, verbaas oor sy geestelike insig.

Ouers het Jesus as voorbeeld om die nodige aandag aan kinders se groei in hulle guns by God te gee. Dit is nie goed genoeg om net vir ‘n kind ‘n Bybel te gee of ‘n kind net katkisasie toe te laat kom nie. Jesus het insig in God en sy Woord gehad.

Kinders het Jesus as voorbeeld en het daarom nodig om in elkeen se verhouding met God te groei. Elke kind in die genadeverbond moet God beter leer ken om nader aan Hom en meer vir Hom te kan leef.

Uiteindelik moet elke kind kan bely en getuig: “Daar is niks in die hemel of op die aarde wat vir my meer beteken as U nie” (Ps.73:25).

In hierdie land is ons baie ver hiervandaan. Net twee voorbeelde: Die eerste dag op skool is baie belangriker as die eerste dag in katkisasie. Die matriekafeindeksamen verdof die aflegging van geloofsbelydenis heeltemal en skuif daardie baie belangrike gebeurtenis met ewige hemelse waarde heeltemal eenkant vir iets wat na die volgende kwalifikasie bereik is, eintlik niks meer beteken nie.

Jesus het in guns by die mense toegeneem. Jesus het in die genadeverbond ook gegroei in sy verhouding met ander mense. Ons kan sê Jesus het as kind ook sosiaal gegroei. God het niemand alleen op die aarde geplaas nie. Elke gelowige is deel van ‘n gesin en ‘n gemeenskap. Elke gelowige is veral deel van ‘n gemeente. Ouers het die roeping om kinders te leer om sosiaal aan te pas en vaardighede te ontwikkel om teenoor ander op te tree soos die Here wil. Jesus het hierin gegroei. Elke kind moet hierin groei om as kind en erfgenaam in die genadeverbond met ander mense om te gaan.

Elke kind moet geleer word om as beeld van God in die genadeverbond te leef, sodat hierdie lewe deel van die volwassene se lewe sal wees.

3. Ouers en kinders se roeping en verantwoordelikheid.

Elke verbondsouer staan voor die Here Jesus Christus se voorbeeld toe Hy nog ‘n kind was.

Ons het Jesus ons Verlosser se volmaakte voorbeeld hoe om reeds in die kinderjare as mens in die genadeverbond te groei. Dit is baie belangrik dat verbondsouers en verbondskinders by Jesus sal leer en sy voorbeeld sal volg. Elkeen moet by die Here Jesus leer. Verstandelike, liggaamlike, geestelike en sosiale groei moet deel van ons manier van dink en leef wees.

Elke ouer in die genadeverbond het die baie belangrike roeping deur God om kinders te help om in die genadeverbond as mens te groei. Dit sal gebeur wanneer ouers kinders nie net sien as deel van die gesin of deel van die skool of deel van die sportspan nie, maar in die eerste plek as kind en erfgenaam in die genadeverbond. So sal daar die regte gesindheid en balans wees in ouers se opvoeding van kinders.

Elke  kind in die genadeverbond moet self ook in die genadeverbond as mens groei. Elke kind het Jesus as volmaakte voorbeeld. Sonder groei in die genadeverbond het groei  in  die skool en groei in sport in werklikheid min betekenis.

In elke huis waar daar nie jong kinders is nie, kan ons vir die kinders in ons kerkverband, kinders in ons land en kinders oor die wêreld bid dat elke kind in die genadeverbond die Here Jesus Christus sal volg.

4. Lewe met God in die genadeverbond.

Met die laaste vers van Luk.2 leer die Heilige Gees ons hoe om met God in die genadever-bond te leef.

Lewe as kinders en erfgename in die genadeverbond het nie net met ons godsdiens te doen nie. Ons behoort met liggaam en siel aan Jesus Christus. Ons is met ons hele menswees – in die voorbeeld van Jesus se kinderjare – verstandelik en liggaamlik, geestelik en sosiaal in die genadeverbond.

Die Here wil dat volwasse ouers en jong kinders, in al hierdie aspekte in die genadeverbond sal groei en vir Hom en naby Hom sal leef. Hierdie lewe begin reeds in die kinderjare.

Dit is God se plan met ons. Elke gelowige in die genadeverbond staan voor ‘n geloofskeuse: Ons volg die Here Jesus Christus se vomaakte voorbeeld na of ons volg ons eie wil volgens ons eie omstandighede.

Volg ons nie Jesus se voorbeeld nie, maar ons eie wil, is ons in ‘n doodloopstraat, soos so baie mense in ons land en moet ons tot bekering kom. Volg ons deur die Heilige Gees in ons Jesus se voorbeeld, sal ons met God in die genadeverbond leef. Dit is lewe wat iets beteken, want dit is God se plan met ons ons hele lewe deur, van ons kinderjare tot aan die einde van ons lewe op aarde.

ANTWOORD
Sing: Ps.71:9,10,11
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.105:1,3,5Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen