Home Preke God se volmaakte plan vir ons God se plan – Hy bied veilige skuilplek teen die verganklikheid van die lewe

God se plan – Hy bied veilige skuilplek teen die verganklikheid van die lewe

Datum: 2025-07-27
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Ps.90:1

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.118:1,12
Geloofsbelydenis: Nicea
Sing: Ps.118:7

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.25:5
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.90:1,2
Lees: Psalm 90
Kernverse: Ps.90:1
Tema: God se plan – Hy bied veilige skuilplek teen die verganklikheid van die lewe.
Sang: Ps.118:1,12; Ps.118:7; Ps.25:5; Ps.90:1,2; Ps.90:8,9; Ps.23:1,2,3

Inleiding:

In Psalm 90 kry ons God se plan vir ons lewe op aarde wat so kort is en so verganklik is en baie keer soveel swaarkry en leed inhou. Sy plan vir ons is uit liefde en sy plan is ‘n ewige plan.

Tema: God se plan – Hy bied veilige skuilplek teen die verganklikheid van die lewe.

  1. God is ewig, net Hy alleen.

Wanneer ons die woord ewig in die Bybel lees, lees ons van iets waarvan ons eintlik niks weet nie. Daar is al baie keer probeer om ewig te beskryf en te verduidelik. Elke beskrywing en elke verduideliking skiet ver  tekort.  Daar is nie ‘n mens wat die ewigheid kan ondersoek nie. Niemand het die ewigheid nog  ervaar nie.

Ons lees oor die ewigheid net  in een boek, die Bybel. Ps.90 is een van die psalms oor die ewigheid van God.

In Ps.90 het ons ‘n gebed van Moses, ‘n man van God. Moses het ‘n besondere verhouding met God gehad. Ons lees in Eks.33:11 die volgende: “Die Here het direk met Moses gepraat soos ‘n man met sy vriend”.

Moses het hierdie gebed deur die Heilige Gees gebid. Die psalm is in God se Woord opgeneem. God maak Homself in hierdie psalm bekend. Die eerste wat ons leer is dat Hy  ewig is.

Vir ons as mense is die berge eeue en eeue oud. Berge vertoon vas en sterk. Die berge in ons land, die Magaliesberg hier by ons, die berge in die Karoo en die Boland en die Drakensberge in Natal gee die indruk dat hulle reeds eeue en eeue daar is.

Moses het die berge as voorbeeld gebruik om die ewigheid van God te verkondig. Voor die berge gebore is, voor die skepping was God reeds. God is die Skepper van berge. Hy is van ewigheid af God die Almagtige. Hy het nie ‘n begin nie. Hy is die Begin. Hy het nie ‘n einde nie. Hy is die Einde. Daar was nie een enkele breukdeel van ‘n oomblik dat God nie was nie. Trouens, Hy is heeltemal bo tyd. Hy is die Skepper van tyd.

Die eerste belangrike waarheid wat die Here ons in hierdie gebed van Moses leer, is dat Hy ewig is.

  1. Ons lewe op aarde vlieg so vinnig verby.

Teenoor die ewigheid van die Here, is die verganklikheid en kortstondigheid van ons lewe op aarde. Ons het waarskynlik almal al gesê: Kyk waar is die jaar al. Kyk hoe vlieg die tyd verby. Dit is die woorde wat Moses in sy gebed ook gebruik het: “Dit is gou verby, ons vlieg na die einde toe” (Ps.90:10).

Ons as mense dink lewe op aarde is lank. Maar dit is nie vir God wat ewig is, lank nie. In digterlike taal beskryf die psalmdigter die ewigeid van God: Duisend jaar is soos gister as dit verby is, soos ‘n enkele wagbeurt. Gister skiet verby. ‘n Wagbeurt is vier uur lank.

Die tweede belangrike waarheid wat die Here ons in hierdie gebed van Moses leer, is dat ons lewe op aarde baie kort is en baie vinnig verby gaan.

‘n Mens se lewe eindig ook nie net nie. God maak ‘n einde aan ‘n mens se lewe op aarde. Hy spoel mense weg. Mense word ‘n slaap. Mense is soos gras. In die môre is dit groen, word afgesny en in die aand is dit verlep. Hierdie beelde wys hoe kort en hoe verganklik ons lewe op aarde is.

God maak ‘n einde aan elke mens se lewe. Hy maak ons uit stof. Hy laat ons terugkeer tot stof. Hy plaas ons op aarde. Hy neem ons weg van die aarde af. Ons liggame is deel van ons lewe wat by stof begin en by stof eindig. God het self so na die sondeval gesê. Sy woorde: “Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” kry ons in Gen.3:19.

Die Prediker het deur die Heilige Gees ook oor die einde van ‘n mens se lewe op aarde geskryf as “…die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was,…” (Pred.12:7).

God is onveranderlik. Eeue na sy woorde in die tuin van Eden is sy woorde steeds waar. Hy is regverdig. Wat Hy sê, doen Hy. Sy regverdigheid eis dat die mens sal sterf, daarom sterf die mens. Vir die gelowige is die straf van die dood verby en die mag van die dood gebreek. Die dood as einde van lewe op aarde is steeds deel van hierdie bedeling.

Met ons lewe op aarde wat so vinnig verby vlieg, is daar nie tyd vir uitstel nie. Die tyd om die lewe te leef wat God gee en wat Hy wil is nou, vandag. Die tyd om naby die Here te leef, sy wil te soek en te doen, is vandag. Die tyd om God lief te hê en Hom uit liefde  te gehoorsaam is nou, vandag en nie môre of eendag in die toekoms nie.

  1. Lewe op aarde vergaan onder God se toorn.

Die derde belangrike waarheid wat God ons in hierdie gebed van Moses leer, is dat daar ‘n rede is waarom lewe op aarde so vinnig verby gaan. Ons kry die rede in vs 9: “Onder u toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos ‘n gedagte”.

Lewe is nie bloot kort en verganklik nie. Lewe op aarde het steeds te doen met God se toorn. God is toornig weens die sonde van die mens. Moses het God geken Hy het die toorn van God as gevolg van sonde besef.

Moses het in sy lewe die Here se toorn oor mense gesien. Hy het die Here se toorn oor ongelowige heidene gesien. Hy was daar toe die Here Egipte met die plae getref het. Moses het veral met die tiende plaag toe die eersgeborene in elke huis, mens en dier gesterf het, die heilige toorn van die Here gesien. Moses het ook die Here se toorn oor ongehoorsame gelowiges in die verbond gesien. Ons lees hiervan in Eks 32:27,28 hoe die Leviete onder die toorn van die Here 3000 van Israel doodgemaak het oor die goue kalf wat Israel gemaak het. Moses het die toorn van die Here oor homself beleef. Omdat hy die rots geslaan het en nie met die rots gepraat het, soos die Here gesê het nie, sou Moses die beloofde land sien, maar nie binnegaan nie (Num.20:12).

Ons  lewe vlieg verby onder die Here se toorn. Adam en Eva en alle mense se sonde is die rede waarom lewe so kort en verganklik is. God het in sy toorn oor sonde die lewe kort en verganklik gemaak.

Moses beskryf mense se lewe in vs 10sewentig, of as ons baie sterk is tagtig jaar”. Ons kortstondige lewe is ook vol swaarkry en leed. Die stukkende aarde en die stukkende mensdom is die gevolg van die sondeval en die Here se toorn oor sonde.

Ons leef in ‘n tyd waar so baie mense nie van sonde en die Here se toorn oor sonde wil weet nie. Om hierdie rede verstaan die meeste mense nie die swaarkry en leed in die lewe nie. Dikwels verwyt mense die Here en word vir Hom kwaad oor die swaarkry, terwyl dit voor die eerste twee mense en na hulle, alle mense se deur gelê moet word.

Die Here sien ook al ons oortredinge teen Hom raak. Die Here weet alles, al probeer ons ons sonde wegsteek en dan dink niemand weet nie. Vir die Here is alle sonde baie erg en verdien alle sonde die dood, al dink ons ons oortree nie so baie en so erg nie.

Die Here wys ons sy toorn oor sonde veral in Jesus, sy Seun. God het sy enigste eie en ewige Seun vir ons gegee. Die Here Jesus Christus het ons sonde op Hom geneem. Hy het in ons plek onder sy Vader se heilige toorn verskriklik gely. Hy het onder sy Vader se heilige toorn oor ons sonde die wreedste dood aan die kruis gesterf.

Die Here Jesus moes hierdie lyding en straf verduur, sodat ons nie vir ons sonde sou ly en gestraf word nie. Hy het die lyding en straf op ons sonde volmaak verduur, daarom kon Hy aan die kruis sê: “Dit is volbring” (Joh.19:30).

  1. Deur Jesus is ons altyd veilig by God.

Moses het in God geglo. Hy het  in sy gebed oor die kortstondigheid en verganklikheid van die lewe en die swaarkry en leed wat daarmee gepaard gaan, na die Here toe gegaan. Dat die Here van geslag tot geslag ons toevlug is, beteken by die Here is daar vir ons veilige skuilplek teen die kortstondigheid en verganklikheid van ons lewe.

Straf op sonde laat ‘n mens, alle mense se lewe in die dood eindig. Jesus het vir ons die straf op ons sonde gedra toe Hy gely het en aan die kruis gesterf het. Hy het ons straf volmaak gedra. Ons dood is nou nie meer straf op ons sonde nie. Wanneer ons sterf vertrek ons van die aarde af. Die Here neem ons weg.

Jesus het vir ons gesterf en vir ons op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het ons die nuwe ewige lewe. In die hemel wag ons erfdeel vir ons. Ons erfdeel is ‘n plek by God ons Vader en by Jesus ons Verlosser.

Wanneer ons sterf, neem die Here Jesus ons weg van die aarde af na Hom toe, sodat ons by Hom kan wees in ewige heerlikheid.

Vir ons wat deur die Heilige Gees opreg in Jesus Christus, ons Verlosser, glo, is die lewe op aarde steeds kort en verganklik, maar dit is nie al lewe wat ons het nie. Ons lewe eindig nie in die dood nie. Ons dood is die deur wat die Here vir ons oopmaak om by Hom in die hemel uit te kom. Ons liggame bly agter wanneer ons sterf, tot die Here Jesus weer kom. Ons siel of ons gees, word dadelik by Jesus geneem. Ons weet dit uit Stefanus se woorde met sy sterwe in Hand.7:59: “Here Jesus ontvang my gees!”

Elkeen wat in Christus glo, Hy wat vir ons gesterf en opgestaan het, het die ewige lewe by die ewige God gekry. Hy is met ons op pad tydens ons lewe op aarde. Sy plan vir ons is om ons in sy hemelse Vaderwoning te ontvang waar sy Seun, ons Verlosser vir ons plek gereed gemaak het, sodat ons in die huis van ons Vader tuis sal wees tot in lengte van dae. In alles wat met ons op aarde gebeur, is God met ons op pad. Hierdie sekerheid het elke gelowige wat aan Christus behoort.

Die vierde belangrike waarheid wat die Here ons in hierdie gebed van Moses leer, is dat daar vir elke gelowige deur Christus veilige skuilplek teen die kortstondigheid en verganklikheid van die lewe by God ons Vader is.

Dit is dan God se plan vir ons in Ps.90, die gebed van Moses, die man van God: By God ons Vader, is daar deur Christus vir ons, teen hierdie lewe wat so kort is en soveel swaarkry en leed het ‘n EWIGE VEILIGE SKUIPLEK!

ANTWOORD
Sing: Ps.90:8,9
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.23:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen