Home Preke God se volmaakte plan vir ons God het ‘n volmaakte plan vir ons

God het ‘n volmaakte plan vir ons

Datum: 2025-01-19
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Rom.8:28.

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Grote God/LB 190:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Skb.9-1:10,11
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps,33:5,6
Lees: Romeine 8:18-30.
Kernvers: Rom.8:28.
Tema: God het ‘n volmaakte plan vir ons.
Sang: Grote God(LB 190):1,2,3; Ps.71:9; Skb.9-1:10,11; Ps.33:5,6; Ps.126:1,2,3; Ps.105:3,5

Inleiding:

Ons is in die eerste maand van ‘n nuwe jaar met twee weke wat ook weer reeds verby is. Dit kan maklik voel asof ‘n mens vasgevang is in die gang van die lewe, met dae, weke, maande en jare wat kom en gaan. Dit kan ‘n mens baie nietig en magteloos laat voel.

Die genade en die troos vir ons as Christengelowiges is dat die Here ons God ‘n volmaakte plan vir ons het. Die lewe gaan nie maar net aan nie. In hierdie reeks preke gaan ons in die Here se Woord kyk na sy plan wat Hy vir ons almal het.

Tema: God het ‘n volmaakte plan vir ons.

  1. God laat alles meewerk.

Dat God alles laat meewerk, wys dat Hy volgens ‘n vaste besluit, ‘n vaste plan optree. Van die heel begin af het God vir ons gewys dat Hy met ‘n plan werk. Sy plan is volmaak.

Die geskiedenis van die skepping wys so duidelik in Gen.1 dat God volgens ‘n bepaalde besluit of dan plan optree –

Vs 1,2 – God skep die hemel en die aarde in die begin. Hy het die geestelike en die stoflike geskep. Ons kan sê die hemelse en die aardse. Van die hemelse lees ons nie verder in Gen.1 nie. Die res van die hoofstuk gaan oor die skepping van die aarde. Die aarde was die ene duisternis en  woeste water en onmoontlik om op te  leef, onaangenaam en onaantreklik.
Vs 3– Die eerste dag. God skep lig. Die lig was goed. Die aarde was meer aangenaam en meer aantreklik.
Vs 6 – Die tweede dag. God skei die waters op die aarde . Hy skep die gewelf/uitspansel wat die waters op aarde onder die gewelf skei van die waters wat bo die gewelf is. God het die gewelf hemel genoem.
Vs 9-12  – Die derde dag. God skei die water op die aarde in land en see. God het ook die plantlewe geskep. Plante, gewasse en bome het uit die aarde gespruit.
Vs 14-17 – Die vierde dag. God het die hemelligte geskep om skeiding te maak tussen dag en nag en vaste tye tussen dae en jare te bring en om lig te gee.
Vs 20 – Die vyfde dag. Voëls oor die  aarde en onder die hemelgewelf en lewende wesens in die see.
Vs 25-27 – Die sesde dag. Die diere op die aarde en die mens as beeld van God, sy verteenwoordiger op aarde om oor alles te heers. God het die man uit die stof van die aarde en die vrou uit die ribbebeen van die man geskep. Dit is die skepping van die mens se liggaam. Hy het ook die asem van die lewe in die neus van die eerste mens te blaas, sodat hy ‘n lewende wese geword het. Ons kan sê dit is die skepping van die mens se gees.

Waarom het die Heilige Gees hierdie alles laat neerskryf?

Een belangrike rede is dat ons God sal leer ken dat Hy alles volgens sy  besluit, sy plan laat gebeur.

Vir die duideliker beskrywing van God se volmaakte plan met ons as mense, is dit nodig dat ons na die res van die Bybel sal kyk. Rom. 8 is juis so ‘n deel waar God sy volmaakte plan vir ons duidelik maak. In Rom.8 het ons God se geestelike plan vir die mense wat Hy op die aarde geskep het.

God laat alles meewerk –

In Rom.8:29 kry ons God se besluit, sy plan in die ewigheid in die woorde verkies en bestem.

Na God se plan wat reeds in die ewigheid begin, kyk ons in ‘n volgende preek, as die Here wil. Vir vanoggend se preek is dit belangrik om te weet en te glo dat God volgens ‘n volmaakte plan optree en werk en dat die plan reeds in die ewigheid begin.

In Rom.8:30 kry ons hoe God alles op aarde laat meewerk,dit is sy plan tydens ons lewe op aarde uitvoer.

Bestem wys op die begin van sy plan in ewigheid. Hieroor meer in ‘n volgende preek.
Geroep – God roep ons deur  die evangelie van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het. Hy roep ons om in  die Here Jesus Christus as ons enigste Verlosser te glo. Elke Sondag tydens ‘n erediens roep God ons. Daarom is dit so belangrik dat die Bybel oop sal wees tydens ‘n erediens en dat die preek uit die Bybel sal wees. Elke keer dat ons Bybel lees, roep God. Daarom is dit so belangrik om gereeld Bybel te lees.
Vrygespreek – Die mens wat deur die Heilige Gees antwoord op God wat roep en in Christus wat gekruisig is en opgestaan het glo, ontvang vergifnis en word vrygespreek van allle straf en oordeel. Wanneer Jesus Christus weer kom, sal daar vir elkeen wat in Hom geglo het, geen straf of oordeel wees nie, net finale volmaakte vryspraak.
Verheerlik – Die gelowiges wat vrygespreek is op grond van geloof in  Jesus Christus, sal met die Here Jesus se wederkoms verheerlik word en in die hemel opgeneem word. “Verheerlik” is geskryf asof dit reeds gebeur het. Dit is ‘n tipiese styl in Grieks om iets wat vas en seker is in die verledetyd te skryf, al moet dit nog in die toekoms gebeur. Ons verheerliking in die hemel is dus vas en seker.

Hier het ons die kern van God se volmaakte plan met ons. Hy laat alles in ons lewe meewerk volgens hierdie volmaakte plan. Ons moet “alles” in die heel wydste sin verstaan. Alles wat in ons lewe as Christengelowiges gebeur, is deel van God se volmaakte plan met ons. Ons sal dit in die reeks ook duidelik uit die Here se Woord sien, as Hy wil.

2. Ten goede – ewige heerlikheid.

Dit bring ons by die “ten goede”. Hierdie is woorde wat goed bekend is by baie gelowiges. Nou is die ook so dat daar by baie gelowiges ongelukkig ‘n misverstand oor hierdie woorde is.

Wat is die misverstand? Gelowiges dink en sê dat alles wat met ons gebeur, is goed, omdat dit in Rom.8:28 staan. Wie die vers so lees en so dink, lees die vers verkeerd en verkeer onder ‘n misverstand.

In die Doopformulier kry ons die woorde dat God “alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil wil beskik”. In Sondag 10 van die Kategismus bely ons dat ook teëspoed uit God se hand kom.

Die woorde in die Doopformulier en die Kategismus kom uit die Bybel. Alles wat gebeur, is daarom nie net goed nie. Die kwaad en teëspoed kom ook op ons  lewenspad.

Hoe moet ons dan hierdie “ten goede” verstaan en glo?

Kyk na die begin en die einde van ‘n groep verse. Kyk of dieselfde saak aan die begin en die einde genoem word. Indien dit so is, gaan die hoofstuk of deel, oor hierdie saak. Kom ons kyk nou na vs 18 en vs 30.

In vs 18 kry ons die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek.
In vs 30 lees ons dat God die wat Hy bestem, geroep en vrygespreek het ook verheerlik.

“Heerlikheid” in vs 18 en “verheerlik” in vs 30 is sterk getuienis dat hierdie deel hoofsaaklik oor die heerlikheid gaan wat in die toekoms met Christus se wederkoms sal aanbreek.

Met hierdie manier van doen, het ons nou sekerheid dat hierdie deel oor ons heerlikheid in die toekoms met Jesus se wederkoms gaan.

Dat God alles ten goede laat meewerk, is woorde wat op die heerlikheid met Jesus se wederkoms wys. Hierdie woorde beteken nie alles wat gebeur, is goed nie, ook nie dit sal môre beter wees of die ergste sal een of ander tyd verbygaan nie.

Ons kan wel of onsself of iemand anders troos met die gedagte dat daar ‘n doel agter alles is, maar ons kan beter doen. Ons kan meer sê, want God sê meer.

God laat alles ten goede meewerk, beteken God laat alles wat gebeur, meewerk na die goeie. Die goeie is die heerlikheid wat op ons as gelowiges wag wanneer Jesus weer kom.

3. Vir wie Hom liefhet.

Wie is hulle “die wat Hom liefhet”?

Die eerste wat ons sal moet weet, is dat God nie alles na die ewige heerlikheid laat meewerk vir alle mense nie. Hierdie wonderlike genade is net vir “die wat Hom liefhet”.

In die Grieks staan “vir die wat Hom liefhet” eerste. Dit is weer tipies van die klassieke Griekse skryfstyl om die belangrike saak of eerste of laaste in die sin te skryf. Die Heilige Gees het hierdie woorde “vir die wat Hom liefhet” aan die begin van die sin laat skryf. Dit is daarom baie belangrik.

Met hierdie woorde neem die Heilige Gees ons na die kruis op Golgota.

God het sondaars eerste liefgehad. Hy het uit liefde sy Seun gegee. Die Here Jesus het uit liefde sy lewe gegee. Deur sy dood en opstanding het Jesus Christus ons verlos van die sonde van haat wat elkeen in ons gedra het omdat Adam en Eva daardie dag in die paradys vir God gehaat het. Om na die duiwel in plaas van na God te luister en te doen wat die duiwel sê, is om God te haat. Die eerste twee mense het daardie haat na ons almal oorgedra.

Jesus Christus het sy lewe aan die kruis gegee om ons  van die haat te verlos, en ons nuut te maak, sodat ons God kan liefhê. Almal wat verlos is en nuwe mense is, het die Heilige Gees. Die Heilige Gees het gekom om in ons te leef en te werk. Die Heilige Gees werk liefde vir God in ons harte. Met die Gees in ons kan ons God liefhê. Die eerste deel van die vrug wat die Heilige Gees elke gelowige laat dra, is juis liefde (Gal.5:22).

“Die wat Hom liefhet” is almal wat in die Here Jesus Christus glo. Vir almal wat in die Here Jesus Christus glo en God liefhet, laat God alles ten goede meewerk.

4. Geloofsekerheid oor God se plan.

“Ons weet” het Paulus deur die Heilige Gees geskryf. Paulus en die gemeente in Rome het geweet. Die brief is vir ons bewaar, sodat ons ook kan sê: Ons weet. Dit beteken: Ons het sekerheid, geloofsekerheid.

Waar kry ons hierdie sekerheid?

Paulus het hierdie brief nie uit sy eie geskryf nie. Ons weet dat die Heilige Gees op ’n spesiale manier van hom besit geneem het en hom die brief aan die gemeente in Rome laat skryf het.

Hierdie sekerheid kom met ander woorde van God die Heilige Gees af. Die Heilige Gees het hierdie woorde laat neerskryf, bewaar laat bly en in die Bybel, God se Woord laat opneem, sodat ons ook kan lees en glo.

Die Heilige Gees gee aan elkeen wat in die Here Jesus Christus glo, dat God ‘n volmaakte plan met elkeen van ons, met ons  almal het. Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid vir ons almal in 2025. Waar ons almal nou is en wat met ons in 2025 gaan gebeur, dit alles is deel van God se volmaakte plan vir ons. Met hierdie waarheid troos en help die Heilige Gees ons op ons lewenspad.

ANTWOORD
Sing: Ps.126:1,2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.105:3,5
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen