ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.4-6
Geloofsbelydenis: Twaal f Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.25:3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.119:1,2
Lees: Prediker 11:7-12:1
Kernverse: Pred. 11:9,10
Vanoggend se tema: God se plan: ‘n Jong lewe van vreugde.
Sang: Skb.4-6; Skb.12-3:1,2; Ps.25:3; Ps.119:1,2; Ps.119:4,5; Ps.100:1,2,3,4
Inleiding:
Die boek Prediker kom van God af. Die Here het hierdie gelowige gelei om na die lewe op aarde te kyk, oor die lewe na te dink en neer te skryf wat hy uitgevind het.
Die Prediker het deur die Heilige Gees deeglike werk gedoen. Die slotsom waartoe hy gekom het, is: Sonder God is alles tevergeefs, kom alles tot niks. Met God het lewe op aarde betekenis.
Vanoggend se preek gaan juis hieroor dat God ‘n plan het met gelowiges se jeugjare.
Tema: God se plan: ‘n Jong lewe van vreugde.
Die Prediker, gelowige man wat die Here geken het, het die lewe goed ondersoek. Hy het nie draaie geloop met wat hy oor die lewe uitgevind het nie. Die eerste vers nadat hy homself bekend gestel het, is: “Alles kom tot niks, sê die Prediker, tot niks” (Pred.1:2).
Hoe moet ons hierdie woorde wat so moedeloos klink, verstaan?
Die Prediker praat van alles in “hierdie wêreld.” Hy bedoel dus lewe op hierdie aarde wanneer mens net na hierdie lewe kyk en nie na God in die eerste plek nie. Ons kan daarom sê dat die Prediker ons leer dat alles in hierdie lewe op hierdie aarde sonder God tevergeefs is, tot niks kom.
Om hierdie boodskap dat alles sonder God tot niks kom, ‘n duidelike en sterk boodskap te maak het die Prediker van die eerste hoofstuk van sy boek tot die laaste geskryf dat lewe ‘n gawe van God aan ons is.
Pred.1:13 – “Ek het bevind: God het ‘n harde taak aan die mens gegee om hom mee besig te hou.” Hierdie harde taak is om in hierdie wêreld te leef.
Pred.12:7 – “Die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het.”
Hierdie is ‘n baie belangrike waarheid wat ons deur die hele Bybel kry: GOD GEE LEWE aan ons. Dit is nie genoeg om te weet dat God die Skepper is nie. Die duiwel weet dit ook en hy gaan ten gronde gaan in die ewige oordeel. Die Prediker se bedoeling is dat elke gelowige met ons hele hart ons hele lewe deur sal besef en onthou en bo alles sal glo dat God aan ons lewe gee. Elkeen van ons se lewe is ‘n GAWE/GESKENK VAN GOD!
God gee lewe en Hy het ‘n plan met die lewe wat Hy vir ons gee.
Jeugtyd is ‘n geskenk van God. Om jonk te wees is nie bloot ‘n deel van die lewe nie. Daar is babas wat voor hulle geboorte sterf en nie jeugjare op aarde beleef nie. Ons mag nie soos evolusioniste dink dat alles maar net vanself ontwikkel en voortrol nie. Ons kinderjare waaroor verlede Sondag se preek gegaan het, is ‘n geskenk van God. Jeugtyd waaroor vanoggend se preek gaan, is eweneens ‘n gawe van God.
God het ‘n plan met elke gelowige se jeugjare. Hierdie plan kry ons in veral in Pred.11:9,10.
Pred.11:9 – “Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jongdae ten volle geniet. Doen wat jy goed vind en waarvan jy hou.”
Prediker was regtig ‘n wyse mens. Wanneer hy oor blydskap praat, begin hy by jongmense. ‘n Jongmens se lewe lê nog voor. ‘n Jongmens is gewoonlik gesond, het baie energie, droom oor die toekoms en werk daaraan om drome waar te maak, maak baie planne oor studie en werk, vriende en verhoudings. Ja, daar is ook jongmense wat swaar en seer het in die hierdie lewe. Die tyd om bly te wees, leer die Prediker ons, is wanneer ‘n mens jonk is.
Die Prediker het om bly te wees, so geskryf dat dit ‘n opdrag is. God wil hê dat ons bly sal wees wanneer ons jonk is. Dit is nie bloot oppervlakkige vals blydskap nie. Twee voorbeelde van sulke blydskap, daar is meer, is waar daar te veel gedrink word en in buite-egtelike verhoudings. Ongelukkig is daar te veel jongmense wat dink dat blydskap hierin lê.
Die blydskap waarvan die Prediker skryf, is blydskap in ons hart. Hoe kry ons ‘n bly hart?
Onthou die engel se woorde die nag met Jesus se geboorte: “Ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap” (Lk.2:10). Jesus Christus is die rede vir ‘n bly hart! Hy verlos ons van ‘n hart wat in sonde vasgevang was. Hy sterf vir ons aan die kruis en staan vir ons uit die dood op. Hy maak ons nuwe mense wat die ware lewe het. Hieroor het ons blydskap in ons hart.
Dan leef die Heilige Gees ook in ons. Hy lei en help ons om met ‘n bly hart te leef. Wanneer ons baie swaar het, kan ons steeds bly wees, want ons het God in ons lewe om ons te help, te dra, te troos en te lei.
Om in die Here Jesus Christus te glo, belemmer nie ons blydskap nie. ‘n Jongmens en ook ‘n ouer mens kan juis voluit bly wees, want straf en oordeel is weg. Christus het dit weggeneem! Die Heilige Gees lei ons juis om met blydskap te leef. Elke Christenjongmens kan juis regtig met blydskap leef.
‘n Bly hart begin in die jeugjare, maar verdwyn nie later nie, want die Heilige Gees wat die blydskap werk, leef ook in ‘n ouer mens se hart.
Pred.11:10 – “Hou kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen”. In hierdie vers leer die Prediker elkeen van ons om kommer uit ons hart te hou en dit wat ons liggaam kwaad kan aandoen te vermy. Kommer en kwelling sluip so maklik in ons lewe in. God wil nie dat ons, veral jongmense met bekommernis leef nie. Hy wil ook nie dat ons ons ligaam leed sal aandoen nie. Ook hier gee die Heilige Gees opdragte, bevele.
Hoe hou ons, veral jongmense kommer uit die hart? Ons wat die Nuwe Testament het, weet dat ons alles wat ons bekommerd kan maak vir God kan gee, want Hy sorg vir ons (1 Pet.5:7) en dat ons oor alles wat ons bekommerd maak moet bid (Fil.4:6). Wanneer ons met ons bekommernis na God toe gaan, sal Hy vir ons vrede in ons hart gee, wat alle verstand te bowe gaan.
Hoe vermy ons, veral jongmense die dinge wat ons liggaam kan kwaad doen? Ek noem twee voorbeelde. Suid-Afrika se statistieke oor die gebruik van alkohol is van die heel hoogste in die wêreld. Ons is ‘n baie slegte land wat dit betref. Jongmense praat van kuier, maar kuierplekke en kuiertyd is te veel keer eintlik drinkplekke en drinktyd.
Die spoed waarteen jongmense ry, veral in middernagtelike ure en die beserings, dikwels blywend en selfs noodlottig, wat in motorongelukke opgedoen word, is so onnodig.
Dit is so belangrik dat elke mens hierdie woorde gelowige jongmens hierdie woorde van die Prediker sal lees, sal glo en sal uitleef.
Opregte blydskap, veral blydskap in die jeugjare is nie roekeloos en bandeloos nie. Die Prediker het baie belangrike woorde in vs 11 neergeskryf: “…maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie.”
Hier leer die Prediker elke Christengelowige om met God in ons lewe bly te wees. Dat ons rekenskap sal moet gee, hou ons nie terug en is nie stremmend op ons blydskap nie. Die Regter wat sal kom, is Jesus Christus, ons Verlosser, wat sy lewe vir ons gegee het. Hierdie waarheid, dat ons Verlosser weer sal kom, maak juis dat ons met ‘n bly hart leef.
Die gelowige jongmens en die gelowige ouer mens wat hier op aarde met blydskap naby God geleef het, se blydskap sal volmaak wees wanneer die Here Jesus weer kom. Hy sal ons blydskap volkome maak wanneer Hy ons by Hom in die hemel opneem.
Juis omdat die Here Jesus Christus weer kom, is dit nodig dat ons ons jeugtyd ten volle sal benut. Ons benut ons jeugjare deur as Christengelowiges met die Heilige Gees in ons hart naby Jesus Christus te leef – nie met harte nie vol kommer is nie, maar harte vol blydskap, terwyl ons ons liggame, ons lewe oppas.
Hoofstuk 12 se eerste vers pas ook in werklikheid hierby: “Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: ‘Ek het daar niks aan nie.’”
Dink het ‘n baie spesiale betekenis. Dink beteken nie om daaraan te dink dat God bestaan nie, ook nie om nou en dan aan God te dink nie. Voorbeelde is dat ons, wanneer ons Sondag gereed maak om erediens toe te gaan of wanneer ons in ons stiltetyd by die huis die Bybel oopmaak, dan aan God dink.
Die Prediker, in werklikheid die Heilige Gees deur hom, vra meer. Dink beteken om God in ons gedagtes te hou in alles wat ons doen. Dink met ‘n gelowige hart. Leef in alles naby Hom en vir Hom, met ons hart en ons gedagtes vol van Hom, ons Skepper.
God het ons geskep. ons is syne. Die allerhoogste God, Skepper van hemel en aarde, het ‘n ewige band met ons. Hy gee ons lewe aan ons. Hy het ‘n plan met ons lewe. Hy beskik ons lewe. Hy sorg vir ons. Hy is regtig ons Skepper.
Hierdie woorde van die Prediker vra ook dat ons na onsself sal kyk en vra: Dink ons genoeg aan ons Skepper.
Hier sien ons die Prediker se wysheid. Die tyd om ons gedagtes en ons hart vol van God te maak, is ons jongdae. ‘n Mens se jongdae is die dae waarin mens baie leer en waarin ons gevorm word. Die jongdae beteken ook ons moenie uitstel nie. Die tyd om ernstig met God besig te wees en my gedagtes en hart vol te maak van Hom, is in die jeugjare ennie later wanneer ons ouer is nie. Luister hoe waarsku die Prediker teen uitstel met God: “Voor die swaar jare kom en die dae waarvan jy sal sê: Ek het daar niks aan nie” (Pred.12;1).
‘n Slotwoord: Die tyd om met ‘n gelowige hart vol blydskap naby God en vir Hom te leef, is die jonkweestyd. Jongmense, leer dit by die Prediker. Ons wie se jeugtyd verby is, vertel die jongmense in ons lewe wat die Prediker ons leer. Of ons nog jonk is en of ons al ouer is, wees deur die Heilige Gees ‘n voorbeeld van ‘n Christengelowige wat met blydskap leef. Wees met ‘n lewe vol blydskap ‘n getuie vir Jesus Christus in ‘n mismoedige land en ‘n moedelose wêreld.
ANTWOORD
Sing: Ps.119:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.100:1,2,3,4
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen