ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.147:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIDGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:2,4
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.3-1/51:1,3
Lees: Matteus 5:1-16
Kernverse: Matt.5:14-16
Tema: God se plan – Christengelowiges is lig dat God verheerlik word.
Sang: Ps.147:1,2; Ps.71:9; Ps.130:2,4; Skb.3-1/51:1,3; Skb.15-7/43:2,4,5; Ps.66:1,2
Inleiding:
Niemand steek ‘n lamp aan en steek dielamp dan weg nie. Ons as Christene mag nie ons geloof en ons liefde vir God en ons gehoorsaamheid aan Hom wegsteek nie. Christus, ons Verlosser vra dat ons met ons lewe in die wêreld duidelik sal wys dat ons aan Hom behoort.
Tema: God se plan – Christengelowiges is lig dat God verheerlik word.
Vir die betekenis van Die woorde “Julle is die lig vir die wêreld” moet ons eers na die Ou Testament toe gaan.
Ons begin by die skepping. God is die Bron van lig. Hy is die Bron van alle lig. Die eerste wat God geskep het, was lig. Dit was werklike lig. Nadat God lig geskep het, het Hy lewe geskep. Die lig wat God op aarde geskep het, het lewe op aarde moontlik gemaak.
Lig het in die Bybel ook ‘n geestelike betekenis. Dawid het so oor die geestelike betekenis van lig geskryf: “Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees?” (Ps.27:1) en “U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons” (Ps.36:10). In altwee hierdie Psalms beteken lig, dat God die Bron van lewe is in ‘n wêreld wat donker is deur sonde. By God alleen is daar lig in die donker wêreld.
Lig verteenwoordig in die Bybel altyd die goed. Donkerte of duisternis verteenwoordig altyd die sleg.
Hierdie geestelike betekenis van lig kry ons ook in die Nuwe Testament. Die betekenis van lig is duideliker in die Nuwe Testament. Johannes het so daaroor in sy eerste brief geskryf: “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie” (1 Joh.1:5). Hierdie woorde beteken God is volmaak goed en heilig.
God is die Bron van alle geestelike lig. God het die verlore mensdom nie net so in die donkerte van die duiwel en die sonde en die dood gelos nie. Hy gee sy Enigste Seun om die geestelike donkerte waarin die mensdom na die sondeval was, te oorwin en te verdryf. Die Here Jesus het mens geword deur ‘n almagtige wonder.
Jesus het die donker lelik en vuil van al ons sonde op Hom geneem. Hy het daarmee aan die kruis gesterf. Met sy dood aan die kruis het Hy die straf op ons sonde gedra. Toe dit vir Jesus waar Hy daar aan die kruis gehang het, die donkerste dag van sy lewe was, het sy lig vir ons die helderste geskyn. Deur sy dood het Hy ons van al ons sonde en van al die straf en oordeel verlos! Na sy dood is Jesus ook die donkerte van die graf in. Maar op die Sondag na sy dood het sy lig weer helder geskyn, want Hy het uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy aan ons die nuwe lewe gegee.
Deur Jesus Christus se sterwe en opstanding is elkeen wat in Hom glo, nie meer in die duisternis van die sonde vasgevang en ewig verlore nie. Dit is die betekenis van Johannes se woorde in die evangelie van Jesus Christus wat hy geskryf het.
Johannes het gskryf dat Jesus die lig is wat in die duisternis skyn, met die duisternis wat die Lig nie kon uitdoof nie (Joh.1:5). Die Here Jesus is die lig, want Hy is self God. Hy is ook lig, omdat Hy gekom het om lewe, dit is geestelike lewe te gee. Dan is Hy lig omdat Hy die duisternis van sonde oorwin en verdryf.
Die eerste wat ons in Matt.5:14 moet raaksien en besef is dat Jesus Christus, wat self lig is, gesê het: “Julle is die lig vir die wêreld”.
Die Here Jesus het daardie dag teen een van die berge in Kapernaum vir die mense daar by Hom kon sê: “Julle is die lig vir die wêreld”, omdat Hy die mense wat aan Hom behoort lig maak of dan lig laat word.
Wat die Here Jesus Christus gesê het, is nie net woorde nie. Dat ons lig is, mag ook nie net vir ons woorde bly nie.
Die mense die dag daar by Jesus was nie vername mense, welvarende mense of die leiers in die gemeenskap nie. Dit was gewone eenvoudige mense wat van Jesus gehoor het, gesien wat Hy gedoen het en Hom begin volg het.
Gewone mense wat in die Here Jesus Christus, geglo het, het destyds uit die mond van God se Seun gehoor dat hulle lig vir die wêreld is. Die Here Jesus se woorde het nie net daardie dag vir daardie mense gegeld nie. Sy woorde is vir ewig. Sy woorde is oo vir gewone mense van dag bedoel. Elke gewone gelowige wat aan die Here Jesus Christus behoort, is lig vir die wêreld.
Christengelowiges is lig, want Christus maak ons lig vir die wêreld. Hoe doen Hy dit?
Jesus sterf vir ons sondes aan die kruis. Hy staan vir ons op die derde dag uit die dood. Deur vir ons te sterf en op te staan het Hy ons uit die ryk van die duisternis as’t ware geruk, en ons oorgebring na die koninkryk van die lig (Kol.1:12,13).
In die ryk van die lig het ons die Heilige Gees in ons. Die Heilige Gees laat ons wedergebore word. Hy begin nuwe lewe in ons hart. Die nuwe lewe is nuwe geboorte, wedergeboorte. In elke wedergebore hart, plant die Heilige Gees geloof in Jesus Christus.
Die geloof wat die Heilige Gees gee, maak ons een met Christus. Ons is so een met Christus dat Hy in ons is. Omdat Christus, die lig vir die wêreld, in Christengelowiges is, is ons as Christene lig vir die wêreld.
Duisternis is om in sonde te bly en ongehoorsaam aan God te bly leef. Om lig te wees, is om God lief te hê, omdat Hy ons eerste liefgehad het en om Hom uit liefde te gehoorsaam.
Kom ons vra die vraag: Hoe lyk die duisternis? Daar is baie dele in die Bybel hieroor. Ons kyk na Efesiërs 5.
Teenoor die wêreld in duisternis, is die Christengelowige wat die lig vir die wêreld moet wees. Christene is lig vir die wêreld wanneer God uit liefde gehoorsaam word. Hoe lyk ‘n lewe as lig vir die wêreld?
Christene mag nie ons geloof en ons liefde vir God en ons gehoorsaamheid aan Hom wegsteek nie. Ons steek dit weg, wanneer ons al hierdie kosbare dinge net binne onsself hou. Ons kan nie en ons mag nie die lig in ons wegsteek nie, net soos mens nie ‘n lamp aansteek en dan wegsteek dat die lig nie langer in ‘n vertrek skyn nie.
Die eerste wat belangrik is, is dat gehoorsaamheid aan God uit liefde vir Hom, nie vanself kom nie. Ons drie geestelike vyande, die duiwel en sy boosheid, die wêreld en sy verleidelikheid en ons eie sondige swakheid is te sterk vir ons en val ons gedurig aan. Wanneer ons op eie krag staatmaak, sal ons God nie uit liefde gehoorsaam nie.
Ons as Christene het die Heilige Gees nodig. Die Heilige Gees lei ons in die volle waarheid van God se Woord. Die Heilige Gees gee ons ‘n sterk geloof. In die krag van die Gees weerstaan ons as Christene die duiwel. In die krag van die Gees oorwin ons wat in Christus glo, die wêreld. In die krag van die Gees lê ons ons sonde af en bied ons sterk weerstand teen sondige gedagtes en woorde en dade.
Deur die Heilige Gees in ons, gehoorsaam ons God uit liefde vir Hom.
Wat gebeur wanneer Christengelowiges God uit liefde gehoorsaam?
Die Here Jesus Christus gee self die antwoord op die vraag: Wanneer ander mense ons goeie werke sien, ons gehoorsaamheid aan God, verheerlik hulle ons Vader in die hemel. Mense verheerlik God, wanneer hulle Hom in hulle lewe wil hê, in Hom as die ware God begin glo, Hom alleen begin aanbid, Hom liefhet en Hom ook voortaan wil gehoorsaam.
Suid-Afrika is ‘n land in die donkerte van sonde. Christene se lig wat skyn, is dringend nodig. Ons mag nie terugdeins nie. Christus het ons lig gemaak. Ons moet lig vir die wêreld wees, dat God verheerlik word. Dit is sy plan vir ons!
ANTWOORD
Sing: Skb.15-7/43:2,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.66:1,2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen