ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.146:1,8
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Sing: Ps.99:1,5
Gebed
VERKONDIGING
Sing:Ps.84:5,6
Lees: 1 Korintiërs 12
Kernvers: 1 Kor.12:18
Tema: God se plan – Elke gelowige met hart en siel in Christus se gemeente
Sang: Ps.146:1,8; Ps.9:1,7,10; Ps.99:1,5; Ps.84:5,6; Skb.12-2:4,5; Ps.119:22,29
Inleiding:
God het elke gemeente syne gemaak deur die dood van sy Seun aan die kruis (Hand.20:28). Elke gemeente is vir God baie kosbaar. Sy plan is daarom: Elke gelowige met hart en siel in die gemeente.
Tema: God se plan – Elke gelowige met hart en siel in Christus se gemeente.
Daar is verskillende beelde in die Bybel om die kerk van Christus, sy gemeente te beskryf.
Joh 10 – Die kudde van die Herder.
Joh 11 – Die lote van die wingerd.
Mark.2 – Die bruid van die Bruidegom.
1 Kor 12 – Die liggaam van Christus.
Ef.2 – Die huisgesin van God.
Al hierdie beelde het ‘n dieper betekenis waar God sy gelowiges vertel en leer hoe die kerk is en hoe sy gelowiges as sy gemeente behoort te leef. Elke gelowige in ‘n gemeente het nodig om hierdie beelde en die betekenis te ken. Hoe sal ons anders ‘n gemeente kan wees en as gemeente kan leef soos God van ons in sy Woord vra?
Dat Christus die Hoof is, beteken die volgende:
Die liggaam, die gemeente is syne. Alle mense was ver van God af en in sonde verlore. Christus het mense se sonde om Hom geneem. Hy het aan die kruis gesterf en opgestaan. Elkeen wat in Hom glo, is van sonde verlos en ‘n nuwe mens. Elke verloste nuwe mens behoort met liggaam en siel nou reeds en in ewigheid aan Christus. Hy is die Verlosser, die Eienaar, die Hoof van alle verloste nuwe mense. Hierdie mense wat in Hom glo, is sy kerk.
Christus as Hoof beskik en regeer sy gemeente, elke gemeente. Ons Hoof is Christus. Al hierdie name soos leier, of voorloper, of hoof of regeerder kan eintlik nooit ‘n mens wees nie. Christus is ons Begin en Voleinder (Hebr.12). Hy is ons Hoof (Kol 1). Al die beelde in die Bybel gee aan Christus die belangrikste plek in sy gemeente. In 1 Kor 12 – Hy is die Hoof van sy liggaam, sy gemeente.
Christus bepaal hoe ‘n gemeente sal wees en sal leef. Daarom is die Bybel so belangrik in elke gemeente. Om onsself te toets of ons by die Bybel bly en regtig volgens die Bybel leef, is ons belydenisskrifte ook nodig. Om in ‘n gemeente se praktiese lewe soos hoe ‘n gemeente georganiseer moet word om ‘n gemeente volgens die Bybel te wees, is ons Kerkorde nodig.
Verder beteken die beeld liggaam dat daar verskillende soorte mense in ‘n gemeente is. Daar is verskillende gawes, verskillende persoonlikhede, verskillende agtergronde, verskillende opvoedings, verskillende kulture in ‘n gemeente. Destyds in Korinte was daar Jode en Grieke, slawe of vry mense waarvan sommige slawe besit het.
In elke gemeente sal daar verskillende soorte mense wees. Gelowiges wat op die verafgeleë platteland grootgeword het, het ‘n ander kultuur as gelowiges wat in die stad groot geword het. Gelowiges wat met twee ouers groot geword het, verskil ook van gelowiges wat met een ouer groot geword het. ‘n Gelowige wat ‘n enkel kind was en ‘n gelowige in ‘n huis met baie kinders verskil ook van mekaar.
God is alwetend. Hy het die goedgedink dat daar nie ‘n gemeente vir elke verskillende groep mense sal wees nie, maar dat sy gemeente die liggaam van Christus sal wees. Die gemeente is net een liggaam, maar baie lede. Die gemeente bestaan uit verskillende lede, verskillende gelowiges, maar daar is net een liggaam.
Die gemeente in Korinte het hiermee gesukkel. Van hulle het Paulus gevolg en ander Apollos. Paulus het hulle deur die Heilige Gees so geantwoord: Christus is net een. Hy is nie verdeel nie, daarom mag die gemeente nie groepe vorm en die gemeente verdeel nie.
Daar was ook verskillende gawes in die gemeente. Die gelowiges het die gawes teen mekaar begin afspeel asof een gawe belangriker as ander is. Paulus se antwoord deur die Heilige Gees was: Daar is baie lede, maar Christus het net een liggaam.
Die Heilige Gees leer ons dieselfde. Hier is baie verskillende gelowiges. Christus is net een. Hy is die een Hoof van sy een liggaam.
2. Deur die Heilige Gees is gelowiges ‘n geestelike eenheid.
Mense is sondig. Gelowiges is ongelukkig steeds ook sondig. Jesus Christus het ons nuut gemaak deur sy volmaakte verlossingswerk toe Hy gesterf en opgestaan het. Maar…gelowiges neig nog te veel keer terug na die lewe van die ou sondige mens wat nie deur Christus nuut gemaak is nie. Ons geestelike vyande, die duiwel en die wêreld maak misbruik van ons sondige swakheid.
Om hierdie rede is die Heilige Gees so uiters noodsaaklik in elke gemeente.
Dit is alleen deur die Heilige Gees dat mense kan glo en bely dat Jesus Christus die Here is. Here beteken Eienaar en Oorwinnaar. Gelowiges sal net deur die Gees kan glo dat die Here Jesus die sonde en die duiwel en die dood oorwin het, dat Hy ons Oorwinnaar oor die bose is. Gelowiges sal net deur die Heilige Gees kan glo en bely dat die Here Jesus ons deur sy sterwe en opstanding syne gemaak het en dat ons met liggaam en siel net aan Hom behoort, nou en vir altyd.
Deur die Heilige Gees is elke gelowige een met Christus. Hy is die Hoof en elke gelowige is ‘n lid van sy gemeente. Hierdie eenwees met Christus raak elke gelowige se lewe elke dag tot in ewigheid. Gelowiges wat aan Christus behoort, is oral enaltyd een met Hom en is daarom verloste nuwe mense. Nuwe mense word deur die Heilige Gees beheers.
In die woorde van 1 Kor.12:13 – Alle gelowiges in ‘n gemeente is “van die een Gees deurdrenk”. Hierdie woorde beteken die een Heilige Gees is in al die gelowiges in ‘n gemeente.
Die een Christus vergader sy gemeente deur sy een evangelie, die evangelie van sy kruisiging en opstanding. Die een Christus vergader sy gemeente ook deur sy een Heilige Gees. Al hierdie beteken dat almal in die gemeente van Christus ‘n geestelike eenheid is.
Die Heilige Gees bind al die gelowiges aan Christus in ‘n geestelike eenheid. Die Heilige Gees bind al die gelowiges deur geloof in Christus aan mekaar as ‘n geestelike eenheid.
‘n Gemeente as geestelike liggaam van Christus leef deur die Heilige Gees beheers. Dit is leef soos die Heilige Gees die gemeente met God se Woord die Bybel lei.
‘n Gemeente as geestelike liggaam van Christus leef ook Geesvervuld. Dit is, is beskikbaar om met oorgawe Christus te dien en om ook ander gelowiges te dien.
3. God voeg elke gelowige in die gemeente volgens sy wil.
Tot dusver het ons na die belangrike plek wat Christus in die gemeente het Hy is die Hoof van die gemeente. Ons het ook gekyk na die Heilige Gees se belangrike plek in die gemeente Hy bind die gemeente aan Christus en aan mekaar. Ons kyk nou na God die Vader se belangrike plek in die gemeente.
God is die Skepper van elke mens. Hy is ook die Herskepper van al die gelowiges. Hy Het ons wat verlore is nuut geskep deur sy Seun vir ons te Gee.
God is ook die Beskikker van elke mens se lewe. Hy beskik veral gelowiges wat aan Christus behoort, se lewe op ‘n spesiale manier. Hy voeg die gelowiges in Christus se liggaam. Die Here Jesus het na die wonderteken met die vyf brode en die twee visse vir die mense daarom by Hom gesê: “Daarom het Ek vir julle gesê niemand kan na My toe kom as die Vader dit nie aan hom gegee het nie” (Joh.6:65).
Dit is alleen deur God die Vader se beskikking dat almal van ons in die Here Jesus Christus glo en aan Hom behoort. Ons geloof kom nie uit onsself nie.
Dit is ook alleen deur God die Vader se beskikking dat ons almal deel van Christus se liggaam, sy gemeente op hierdie plek is. Ons mag dalk dink die redes waarom ons hier deel van Christus se liggaam is, is omdat ons ouers gereformeerd was, of ek met iemand getrou het wat gereformeerd was of dat ons hier in die gemeente bly. Wat almal van ons ook al gedink en beplan het dat ons hier kan wees – bo dit alles troon die lewende God, ons Vader in die hemel. Hy het ons lewe beskik dat ons hier gelowiges in Christus se liggaam is. Hy het elkeen van ons in hierdie liggaam gevoeg soos Hy dit wou hê. Elkeen van ons is hier omdat God ons hier wil hê.
Dit is wonderlike genade dat God se plan met elkeen van is dat ons aan Christus sal behoort en hier in sy liggaam ‘n lid sal wees. Die lewende God het vir elkeen van ons hier ‘n plek. Ons kan met geloofsekerheid en met vrymoedigheid hier ‘n lid van die liggaam van Christus, ‘n gelowige lidmaat van sy gemeente wees.
4. Gelowiges se roeping: Gebruik gawes tot ander se voordeel.
Omdat ons Christus se liggaam is,
Omdat die Heilige Gees ons aan Christus en aan mekaar bind,
Omdat God die Vader ons hier in die gemeente wil hê,
is dit NOODSAAKLIK dat ons en MOET ons leef soos ‘n gemeente van Christus behoort te leef.
Christus het vir elkeen ‘n gawe of gawes gegee. Die Korintiërs het ‘n verskeidenheid gawes ontvang, maar hulle het baie gesukkel om as liggaam van Christus, as ‘n gemeente saam te leef. Die Korintiërs het dikwels nie hulle gawes gebruik tot voordeel van mekaar en tot opbou van die gemeente nie.
Ons sal ook sukkel om as gemeente van Christus te leef, indien ons almal nie ons gawes tot voordeel van mekaar en tot opbou van die gemeente gebruik nie. Dit is daarom noodsaaklik dat ons die volgende gawes wat Christus gegee het, moet gebruik –
Eensgesindheid – Daar is net een Christus. Daar is net een Heilige Gees. Daar is net een God en Vader. Hierdie Drie is Een. Daarom moet daar eensgesindheid in Christus se gemeente wees.
Die volgende maniere van dink en praat verhinder en breek hierdie eensgesindheid:
Meelewing – “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saambly” (vs 26). Om mekaar te ken, omgee vir mekaar, mee leef met mekaar is die manier van doen wat ‘n gemeente eensgesind laat leef.
Liefde – 1 Kor.12 sluit af met “die beste genadegawes” (vs 31). Dan volg 1 Kor.13, die hoofstuk oor liefde. Liefde is die beste, die grootste, die belangrikste gawe. Wanneer gelowiges in ‘n gemeente mekaar regtig liefhet, sal ‘n gemeente eensgesind wees en eensgesind leef.
Daar is baie meer genadegawes in ‘n gemeente van Christus. Wat vir hierdie drie geld, geld vir al die ander gawes. Die belangrike wat God, Drie-enig van ons wil hê, is dat ons ons gawes tot voordeel en tot opbou van ander sal gebruik.
Hier lê ons roeping: Die gawe van eensgesindheid, meelewing en liefde vir mekaar tot opbou van mekaar. So sal ons Christus se gemeente opbou. Hierdie sal gebeur indien elke gelowige met hart en siel in Christus se gemeente is – dit is God se plan vir ons!
ANTWOORD
Sing: Skb.12-2:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.119:22,29
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen