ONTMOETING
Votum: Ps,121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die Sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.145:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaal Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.30:1,3
Lees: Psalm 100
Kernvers: Ps.100:2
Tema: Lewe volgens God se plan en dien die Here met blydskap.
Sang: Ps.145:1,2,3; Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Ps.30:1,3; Ps.33:1,2; Ps.150:1,2,3
Inleiding:
Om bly te wees, is ‘n belangrike deel van ‘n opregte gelowige se lewe. Daar is baie dinge hier op aarde wat kan keer dat gelowiges bly is of wat blydskap van ons kan wegneem. Maar wat ons as Christengelowiges bly maak, is baie meer en baie groter as enigiets wat ons blydskap wil wegneem. Die Here praat met ons oor ons blydskap in Ps.100.
Dit is belangrik om ‘n gelowige te wees wat met blydskap leef, want God se plan vir ons is juis om Hom met blydskap te dien.
Tema: Lewe volgens God se plan en dien die Here met blydskap.
Ps.100 is ‘n psalm oor blydskap en lof. Blydskap en lof aan God kom uit ‘n gelowige en dankbare hart. Vir ons as gelowiges om bly te wees, sal ons by God moet begin. Ware en opregte blydskap begin by Hom. Hoe so?
Die eerste rede vir ‘n opregte gelowige om bly te wees, is: GOD HET ONS GEMAAK (vs 3). Hierdie woorde vertel ons van God ons Skepper. Wanneer ons van God die Skepper hoor of van Hom in die Bybel lees, is die volgende wat in ons gedagtes en ons harte moet leef:
Wanneer hierdie waar dinge in ons harte en gedagtes leef, weet ons dat niemand van ons sommer net hier op aarde bestaan nie. Die almagtige en alwetende en genadige God het elkeen van ons geskep. Hy het in sy ewige raad besluit dat elkeen van ons ‘n mens sal wees wat op sy aarde sal leef. Dat ons leef is deel van God se plan. Ons is deel van sy plan.
Die tweede rede vir ‘n opregte gelowige om by te wees is: ONS BEHOORT AAN GOD. Ons is syne (vs 3). God is die ewige Vader van Christus. God is deur Christus ook ons Vader. Hy het sy Seun uit liefde aarde toe gestuur om sondaars wat in sonde verlore was, te verlos. Christus het ons sonde op Hom geneem. Hy het in ons plek die bitterste lyding verduur. Hy het in ons plek vir ons sondes die wreedste dood aan die kruis gesterf. Deur sy dood en opstanding het die Here Jesus ons en God weer bymekaar gebring in ‘n innige Vader-kindverhouding.
Ons kan ons Vader vertrou om met genade en liefde ons te versorg met alles wat ons nodig het. Hy sal ook alles wat Hy oor ons beskik tot ons beswil laat wees. Hy is ons almagtige Vader wat ons lewe so kan beskik. Hy is deur Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het ook ons liefdevolle en getroue Vader wat alles in ons lewe ten goed wil laat meewerk om ons uiteindelik met sy Seun se wederkoms in die hemel op te neem. Waar ons ewig by Hom sal wees.
Ons as Christengelowiges leef onder die sorg van ons almagtige, genadige en liefdevolle God en Vader. Met die Heilige Gees in ons, kan ons met vertroue en sekerheid leef hier op aarde en ons kan sekerheid hê van ons ewige toekoms. Dit is wonderlike genade in ons lewe, waaroor ons elke dag van ons lewe bly behoort te wees.
2. Ons antwoord: Dien Here met blydskap.
Ons het die almgtige en oralteenwoordige en alwetende God in ons lewe as ons genadige, getroue en liefdevolle Vader deur Christus. Opregte gelowiges kan nie hierdie genade ontvang en niks gebeur nie. Ons is ‘n antwoord aan God ons Vader verskuldig vir hierdie wondergenade in ons lewe.
Hy vertel en leer ons in sy Woord, watter antwoord Hy van ons wil hê. Ons kry die antwoord in Ps.100:2 – “Dien die Here met bydskap!”
Hoe dien ‘n gelowige die Here met blydskap?
Om Hom te dien beteken nie om uiterlike godsdienstige wette en pligte na te kom nie, al lyk dit hoe mooi en voorbeeldig wanneer iemand so leef. Om die Here te dien, is baie meer as net uiterlike godsdiens. Om die Here te dien, beteken om in ‘n lewende verhouding met Hom te leef.
Ons het ‘n lewende verhouding met God wanneer ons met ‘n wedergebore hart naby Hom en vir Hom leef. ‘n Wedergebore hart is ‘n hart vol geloof in God en ‘n hart wat brand van liefde vir Hom, liefde wat wys in ons gehoorsaamheid aan Hom.
Hierdie geloof en liefde en gehoorsaamheid mag ons nie hier binne wegsteek nie. Geloof in God, liefde vir Hom en gehoorsaamheid aan Hom behoort ons bly te maak. Waarom? Dit is net verloste gelowiges wat in so ‘n lewende verhouding met God sal kan leef. Jesus Christus het vir ons gesterf en opgestaan om ons verloste nuwe mense te maak. Die Heilige Gees het gekom om elke verloste nuwe mens met blydskap te laat leef. Blydskap is juis deel van die vrug van die Gees. Bkydskap behoort daarom in ons lewe te wys!
Dit is belangrik om te besef en te glo dat blydskap in ons as gelowiges se lewe nie ‘n vrywillige manier van leef is, volgens ons keuse en wanneer omstandighede dit toe laat nie. “Dien die Here met blydskap” (vs 2) is ‘n opdrag van God. Daar is ‘n verskeidenheid van Psalms wat oor blydskap gaan. Paulus, Jesus Christus se apostel, het ‘n hele brief oor blydskap geskryf, die brief aan die Fillipense waar die Here weer ‘n opdrag gee: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” (Fil.4:4).
Al is daar baie dinge wat tans in ons land en in die wêreld verkeerd gaan, al leef ons onder baie moeilike omstandighede, ons rede om bly te wees is groter en meer, want ons het die lewende God as ons liefdevolle Vader in ons lewe!
3. Leef met blydskap
Die gelowige digter van Ps.100 het sy blydskap nie in sy binneste weggesteek nie. Hy het gelowiges opgeroep om bly te wees.
– in die wêreld. “Juig tot eer van die Here, almal op aarde!” (vs 1). Hierdie woorde beteken dat gelowiges waar ons ook al in die wêreld beweeg, met blydskap behoort te leef. Ons het meer as genoeg rede om bly te wees. Gelowiges in die wêreld sukkel met baie dinge: Oorloë, geweld, onderdrukking, mensehandel, natuurrampe en soveel meer. Al hierdie keer gelowiges om by te wees.
Ons as Christengelowiges het die roeping om bly te wees omdat ons God die Skepper in ons lewe as ons Vader het. Ons kan hieroor baie bly wees. Ons behoort hierooor baie bly te wees. Met ons blydskap kan ons ander gelowiges moed gee om ook my blydskap te lewe.
– in die erediens. “Gaan sy poorte binne met dankliedere, sy tempel met lofsange…” (vs4).
In ‘n erediens is gelowiges in God ons Vader se teenwoordigheid. Hy ontvang ons met barmhartigheid, genade en vrede. Hy praat met ons en verseker ons dat Hy ons God is en dat ons syne is.
Hierdie genade behoort ons baie bly te maak. Gelowiges wys ons blydskap tydens ‘n erediens in ons sang. Daarom is dit baie belangrik om wanneer ons sing met ‘n bly hart te sing. Ons blydskap behoort ook in ons sang te wys. Ons behoort met blydskap na elke erediens uit te sien. Ons behoort met blydskap van elke erediens weg te gaan.
– in eie geloofslewe. “Dien die Here met blydskap! Kom voor Hom met gejubel!” (vs 2).
Ons leef almal elke dag voor die Here. Hy is God die almagtig en oralteenwoordige Skepper van hemel en aarde . Hy is deur Christus ons genadige en liefdevolle en getroue Vader. Ons is altyd in sy teenwoordigheid.
Hy sorg. Hy voorsien. Hy beskerm. Hy lei. Hy bemoedig en Hy troos. Ons, sy gelowiges, is nooit op onsself aangewys om self reg te kom nie. Ons hulp kom oral en altyd van die Here wat hemel en aarde gemaak het (Ps.121:2).
Hierdie genade dat die lewende God in ons lewe is as ons Vader, behoort ons harte te laat oorloop van blydskap. Christengelowiges het nodig om Ps.100 ons eie te maak en die Here uit ons hart met blydskap te dien. Om Hom met blydskap te dien, is deel van sy plan met ons lewe.
ANTWOORD
Sing: Ps.33:1,2
Gebed
Liefdegawe vir barhartigheid
Sing: Ps.150:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen