ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.8:1,3,4,7
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:2,4
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.33:6,7
Lees: Handelinge 17:16-34.
Kernverse: Hand.17:26-28.
Tema: God se plan: Hy laat ons lewe, sodat ons Hom kan soek.
Sang: Ps.8:1,3,4,7; Skb.12-3:1,2; Ps.130:2,4; Ps.33:6,7; Ps.71:1,4,10; Ps.115:1,8,9.
Inleiding:
God het ‘n plan met Paulus gehad. Ons kry die plan telkens in die begin van sy briewe. Rom.1:1 is een van die plekke: “Van Paulus, ‘n dienaar van Christus Jesus, geroep om apostel te wees, afgesonder vir die evangelie van God.”
In Hand.17 lees ons hoe God ‘n deel van hierdie plan in Paulus se lewe uitgevoer het. Vanoggend se deel, Hand.17:16-34, gaan oor Paulus in Atene.
In Atene het die Griekse filosowe Pauus gehoor praat. Hulle het Paulus na die Areopagus geneem om daar na hom te luister. Iets oor die Areopagus. Daar was ‘n raad in Atene wat toesiggehou het oor die openbare orde in die stad. Hulle het gesag oor die godsdiens en die morele lewe van die stad gehad. Hierdie raad was se naam was die Areopagus. Hulle het op ‘n sekere heuwel in die stad vergader en mense oor allerhande sake daar aangehoor. Terwyl iemand gepraat het, kon baie mense na hom luister. Die heuwel waar die byeenkomste gehou is, het later as die Areopagus bekend gestaan.
Daardie dag, tussen die Ateners het Paulus met hulle oor God se plan vir ons lewe gepraat. In Hand.17 leer die Here ons dat sy plan is om aan ons lewe op aarde te gee dat ons Hom kan soek.
Tema: God se plan: Hy laat ons lewe, sodat ons Hom kan soek.
In Hand.17:25, 26 kry ons die volgende woorde: “Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee. Uit een mens het Hy al die nasies gemaak.”
Een van die belangrikste en grootste waarhede in die Bybel is dat God die Skepper, die Gewer van lewe is. In die heel eerste boek van die Bybel, die eerste twee hoofstukke, maak God Homself as die almagtige Skepper bekend.
Hierdie baie belangrike waarheid bely ons elke Sondag tydens die erediens. Vanoggend het ons so bely: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde…”
Die lewe wat God gee, is lewe na liggaam en na siel. Ons kry hierdie waarheid in Gen.2:7. God het die eerste mens uit die stof van die aarde gemaak (die mens se liggaam) en die asem van die lewe in sy neus geblaas dat die mens ‘n lewende wese geword het (die mens se siel)
Oor die lewe wat God, die Skepper gee, is dit belangrik om vandag hierdie vers in Gen.1:27 ook te lees: “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.”
Na die sondeval het die mens na liggaam en siel onder God se oordeel gekom en is die ganse mensdom in die ellende van die ewige dood gedompel om ewig verlore te gaan..
In sy genade en sy liefde het God sy Seun gegee. Sy Seun, ons Here Jesus Christus het aan die kruis gesterf vir ons sonde en Hy het uit die dood opgestaan dat ons die ewige lewe kan hê. Elkeen wat in Jesus Christus glo, het nou die ewige lewe.
Dit is weereens en steeds God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde wat die ewige lewe deur sy Seun aan ons gee.
2. Hy bepaal ons lewe.
‘n Baie belangrike vers in die eerste boek van die Bybel is Gen.1:31. Dat God, nadat Hy sy skepping volmaak afgehandel het, gekyk het na alles wat Hy geskep het, het ‘n belangrike dieper betekenis. Daardie vers beteken dat God alles wat Hy geskep het onder sy oog hou, in sy hand hou. Hy kyk na sy skepping. Hy sorg vir sy skepping.
Paulus het daardie dag met die Ateners hieroor gepraat. Hy het gesê: “Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon” (Hand.17:26).
Die Grieke wat oorpronklik van Atene was, het gedink hulle is beter as ander mense. Hulle het daarop geroem dat hulle uit die grond van Atene gebore is. Hulle het ook geglo dat hulle in beheer van hulle lewe is. Die Heilige Gees het Paulus gelei om daardie dag anders te praat as wat die Ateners gedink en geglo het.
God is die Skepper, die Gewer van lewe. Hy is ook die Bepaler van lewe. Ons kry dit op baie plekke in die Bybel dat God ons lewe bepaal. Daar is nog meer plekke in die Bybel waar ons hiervan lees.
Ons hoor vanoggend in Hand.17:26 hierdie twee dinge hoe God ons lewe bepaal.
Die eerste – Hy bepaal hoe lank ons sal bestaan. Ons het voorbeelde hiervan in die Bybel: In Gen.15:15 sê die Here vir Abraham dat hy in vrede sal sterf en op ‘n hoë ouderdom begrawe sal word. In Jes.38 moes Jesaja vir koning Hiskia gaan sê dat die Here hom nog vytien jaar sal laat lewe.
Solank ons op aarde leef voor Christus weer kom, het elke mens ‘n geboortedag en elke mens ‘n sterfdag. Daardie twee dae en al die ander dae tussenin, word deur God bepaal. Bo alles wat gebeur, troon God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde. Hy is die Een wat vir ons lewe gee. Hy is die Een wat bepaal hoe lank ons op aarde sal bestaan.
Die tweede – Hy bepaal waar ons sal woon. Ons kry hierdie waarheid in die Bybel – Gen.12 toe God vir Abraham aangesê het om te trek na die land wat Hy vir Abraham sou wys en Jos.1 waar die Here die woongebied van Israel in die beloofde land vir Josua gewys het.
Die Here wil dat ons baie belangrike dinge in hierdie vers oor God se plan met ons sal leer en sal glo:
In die lewe wat baie keer so gejaag is, waar die hier en die nou baie keer so belangrik lyk, is ook ons, gelowige kinders van die Here geneig om hierdie baie belangrike waar dinge te vergeet. Indien ons dit vergeet, hoe sal ons kan glo wat God vir ons sê?
Hand.17:26 is ‘n BAIE BELANGRIKE vers in die Bybel vir elke ware gelowige kind van die Here!
Dit bring ons by nog ‘n baie belangrike waarheid oor God se plan met ons.
3. Ons leef deur Hom.
In Hand.17:28 het Lukas die volgende woorde deur die Heilige Gees geskryf: “Want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Of soos party van julle digters ook gesê het:’Ons stam ook van Hom af’”.
God is hoog verhewe in die hemel. Hy is die Allerhoogste. Maar…Hy is tersefldertyd ook op die aarde. Hy is alomteenwoordig, of dan oralteenwoordig. Hy is die Skepper van alles en almal. Ons lewe deur Hom, net deur Hom. Hy gee ons lewe aan ons. Hy gee sy Seun vir ons. Hy gee sy Gees in ons. God is die Bron van ons lewe. Ons lewe net deur Hom.
Wat meer is, ons beweeg en bestaan deur Hom. Die Ateners het geglo hulle afkoms, hulle wysheid en hulle vermoëns, hulle hele bestaan kom uit hulleself. Paulus weerlê met die woorde van vers 28 hulle hooghartige dwaling. Trouens, Paulus gebruik een van die Ateners se eie digters se eie woorde om te wys hoe verkeerd die Ateners is.
Dit bring ons by die vraag: Hoe gebruik Paulus dan die woorde van ‘n heidense Griekse digter wanneer hy oor God praat? Die antwoord kry ons in Rom.1:20 – “Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie…”
God het die mensdom so geskep dat enige mens, selfs ook ‘n Griekse heidense digter uit die werke van God in die skepping kan weet dat Hy God is en dat ons net deur Hom lewe. Hierdie woorde van Paulus is in werklikheid ‘n klag teen die Ateners dat hulle ‘n gebrek aan insig het en daarom in die duister bly.
Ons as gelowige kinders en erfgename van die lewende God moet anders wees. Een van ons dwalings is wanneer ons van toevallig praat. Hand.17:28 is net een van die verse in die Bybel, waar die Heilige Gees ons duidelik leer dat niks toevallig is of gebeur nie, maar dat ons deur God leef, deur Hom beweeg en deur Hom bestaan. Niks wat gebeur is toevallig nie. Alles wat gebeur, is volgens God se plan met ons.
4. Hy wil dat ons Hom in alles sal soek.
God se volmaakte plan met ons, is om aan ons lewe te gee, ons lewe in fyn besonderhede te bepaal met hierdie rede: Om Hom te soek. God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde se plan met ons is: Ons, sy gelowige kinders moet Hom in alles soek.
Hoe soek ons God in alles?
Ons hoef nie ver te gaan soek nie. God is nie ver dat ons Hom moeilik kan bereik nie. Hy is naby ons. Hy is so naby ons dat Hy in ons is. Die Gees van God woon in ons (Rom.8:9). Die Bybel, God se Woord waarin Hy Homself aan ons bekendmaak, is in ons hand en in ons hart (Hebr.4:12).
Ons kan God deur sy Heilige Gees in sy Woord soek om Hom te ken. Om God te soek is om in die Bybel te ontdek en uit te vind wie God is. Hierdie soeke na God is ‘n manier van lewe al ons dae op aarde. Wanneer ons aanhoudend na Hom in sy Woord soek, groei ons in ons verhouding met Hom.
Ons kan Hom deur sy Gees in die Bybel soek om uit te vind en te leer wat sy wil vir ons lewe is. Wanneer ons as gelowige kinders van God sy wil soek en doen, leef ons naby Hom.
Ons kan Hom soek deur gebed. Gebed is die manier hoe God se kinders ‘n innige verhouding met Hom het.
‘n Slotwoord
God het aan ons lewe gegee om Hom te soek. Gebruik ons die lewe wat ons het om Hom te soek?
Ons leef net, omdat ons deur God leef. Ons leef deur Hom, sodat ons Hom kan soek. Is ons in die manier hoe ons leef, besig om God te soek?
Ons beweeg en bestaan deur God, deur Hom alleen. Die rede hiervoor is, dat ons Hom sal soek. Kan ons eerlik sê dat ons in alles wat gebeur en alles wat ons doen, ons God soek?
Hierdie is belangrike vrae, want die vrae gaan oor God se plan met ons lewe.
ANTWOORD
Sing: Ps.71:1,4,19
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.115:1,8,9
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen