Home Preke God se volmaakte plan vir ons God se plan - 'n huisgesin wat Hom dien

God se plan - 'n huisgesin wat Hom dien

Datum: 2025-06-15
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Jos.24:14,15

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.33:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.128:1,2,3
Lees: Josua 24
Kernverse: Jos.24:14,15
Tema: God se plan vir ons lewe – ‘n Huisgesin wat Hom dien.
Sang: Ps.33:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Ps.128:1,2,3; Ps.105:4,5; Ps.18:12,14

Inleiding:

God het ‘n plan vir elke gesin, elke verbondsgesin. Tans gaan dit juis met verbondsgesinne dikwels nie goed in ons land nie. Elke verbondsgesin het nodig om God se plan vir ons te ken en deur die Heilige Gees in die lig van God se Woord binne sy plan te leef.

Tema: God se plan vir ons lewe – ‘n Huisgesin wat die Hom dien.

  1. Die Here se genade aan ‘n verbondsgesin.

Die tyd van Israel se byeenkoms in Jos.24 was ‘n tyd toe dit rustig met Israel gegaan het. Hulle was in Kanaän, die land wat die Here beloof het. Elkeen van Israel se stamme het ‘n woongebied gehad. Daar was wel een ernstige geestelike probleem – afgode. Daarvoor het Josua al die stamme van Israel by Sigem bymekaar laat kom.

Josua het begin om Israel van die Here se genade in hulle lewe te vertel. Die wonderlike genade was dat hulle in die Here se verbond van genade opgeneem is.

Die Here het Abraham weggeroep tussen die heidene en sy ewige genadeverbond met Abraham gesluit. Die Here se beloftes aan Abraham was onder andere ‘n eie land om in te bly en ‘n groot nageslag. Deur die geskiedenis was die Here volmaak getrou aan alles wat Hy aan Abraham beloof het. Die Here was Abraham en sy nageslag se God.

Israel was nie langer verlore in sonde nie. Hulle was in sy genadeverbond. Die besnydenis as teken van die verbond en al die offers het gewys op versoening met God en verlossing van sonde en lewe. Dit was Israel in die Ou Testament.

Wat van ons in die Nuwe Testament? Ons is ook in die genadeverbond. Elkeen wat aan Christus behoort, is deel van die nageslag van Abraham en in die genadeverbond. Jesus Christus het  vir ons gesterf en opgestaan. Daardeur het Hy ons en God weer bymekaar gebring, Hy ons Verbondsgod en Vader en ons sy kinders en erfgename.

Om in die genadeverbond te wees, is wonderlike genade vir elkeen wat aan Christus behoort. In die genadeverbond is nie net enkele gelowiges nie. In die genadeverbond is juis ook verbondsgesinne. Om in die genadeverbond te wees, beteken dat ‘n gesin onder die genade en liefde, die beskerming en sorg van die Verbondsgod leef. Dit beteken verder dat ‘n gesin met God versoen is en vergifnis van sonde ontvang het, deur Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het.

Vir ‘n gesin om in die verbond te wees, is wonderlike genade in ‘n verbondsgesin se lewe.

Nadat Josua oor die Here se genade gepraat het, het hy oor Israel se lewe voor die Here gepraat, dit is oor die Here se wil in sy verbond.

  1. Die Here se wil vir ‘n gesin.

Josua het die dag daar by Sigem ook met elke verbondsgesin gepraat. Die Here se wil vir elke verbondsgesin kry ons in hierdie woorde: “Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en trou” (vs 14).

Ons kry die betekenis van hierdie woorde in baie dele in die Bybel:

  • Jos.24:14 – Alle afgode moet uit ‘n gesin se lewe wees. Die eie-ek in elke gesinslid se lewe is ‘n afgod. Maniere van praat soos vloek, wat verkeerd is, maar waaraan ‘n gesin bly vashou, is ook ‘n afgod. Elke mens of ding wat te belangrik is, is ‘n afgod wat die Here nie in ‘n verbondsgesin wil hê nie.
  • Deut.6:4-9 – ‘n Verbondsgesin moet in die Here as die enigste God glo en Hom daarom liefhê met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag. Ouers moet hierdie geloof en liefde vir God hê. Ouers wys liefde vir God deur Hom te gehoorsaam. Die Here wil dat ouers hulle kinders sal leer om die Here lief te hê en Hom te gehoorsaam. Liefde vir God en gehoorsaamheid aan Hom, moet ‘n gesin se manier van lewe wees. Dit is wat die Here vir ‘n gesin wil hê.
  • Ef.5:22,25 – Die Here wil dat ‘n man en vrou, in die regte verhouding met  mekaar sal leef: Die vrou aan die man onderdanig soos die gemeente aan Christus en die man lief vir sy vrou soos Christus vir sy gemeente.
  • Ef.6:1-4 Die Here wil ook dat kinders as gelowige kinders in die genadeverbond hul ouers sal gehoorsaam omdat God dit van kinders vra. Die Here wil verder dat ouers, veral pa’s nie hulle kinders so behandel dat kinders opstandig word nie.
  1. Ouers in ‘n gesin gemeet aan God se plan.

Ouers en kinders in die genadeverbond moet leef soos ‘n verbondsgesin wat soveel genade van die Here ontvang het. Dit is God se plan vir elke verbondsgesin.

Ons kyk na wat ouers gedoen het in die Ou Testament. Ons lees van verskillende ouers en hulle gesinne. Vanoggend kyk ons na

  • Isak en Rebekka en hulle seuns Jakob  en EsauGen.25:28. Isak het ‘n spesiale verhouding met Esau gehad. Rebekka het ‘n spesiale verhouding met Jakob gehad. Hierdie ouers het ‘n onderskeid tussen hulle kinders gemaak en daardeur hulle gesin in twee verdeel. Hierdie verdeeldheid het hulle aan hulle kinders oorgedra.
  • Jakob en JosefGen.37:2,3. Jakob het openlik vir Josef, sy tweede jongste  seun liewer as sy ander seuns gehad. Jakob was by sy seuns in sy huis, maar hy was eintlik ‘n afwesige pa vir die ander seuns. Dit het veroorsaak dat die ander seuns ‘n baie slegte verhouding met Josef gehad het.
  • Dawid en Adonia1 Kon.1:6. Ons lees in hierdie vers die volgende: “Sy pa het hom van kleins af nooit berispe of vir hom gevra:’Hoekom maak jy so nie?’’. Ons kan sê dat Dawid Adonia bederf het, hom alles toegelaat het en sy seun nie die grense wat die Here self vir verbondsgesinne gestel het, geleer het nie. Dawid het Adonia nie geleer oor wat reg en wat verkeerd voor die Here is nie.
  • Josua en sy gesin Jos.24:15. Josua het die geestelike leiding in sy gesin geneem. Hy het vir sy geloof in die Here opgestaan en getuig dat hy en sy gesin in die genadeverbond die Here sal liefhê en gehoorsaam. Josua het binne die grense van die Here geleef en sy gesin gelei om ook so te leef.
  • Hanna en Samuel1 Sam.1:9,11; 24-28. Hanna was ‘n gelowige vrou wat om ouer te wees ‘n saak van gebed gemaak het. Sy het nie haar enigste seun, Samuel, vir haarself grootgemaak nie, maar hom vir die Here grootgemaak en hom in werklikheid aan die Here afgestaan

Ons sien in hierdie verbondsouers se lewe, wanneer ons hulle aan God se plan vir ouers meet, hoe gelowige ouers heeltemal verkeerd opgetree het – Isak en Rebekka. Oor hierdie gesin die volgende: Dit is verkeerd wanneer veral ‘n ma ‘n seun spesiaal na aan haar laat voel en hom so groot maak. Daar was al ma’s wat vertel dat haar seun eintlik soos ‘n dogter in die kombuis is. Om ‘n seun so groot te maak is om ernstige probleme vir so ‘n seun te veroorsaak.

Daar was ook Jakob en Dawid wat as ouers nie reg gedoen het nie. Ons sien ook hoe gelowige verbondsouers gedoen het wat  reg voor die Here was – Josua en Hanna.

Alle verbondsouers staan voor hierdie vraag: Hoe lyk ons lewe as ouers gemeet aan God se plan? Net die Here wys ons net in sy Woord net deur sy Gees hoe om verbondsouers te wees volgens sy wil. Om ‘n kind te bederf, nader aan een kind te wees ten koste van ander, om ‘n afwesige ouer te wees en om ‘n kind nie te leer van reg en verkeerd nie, is om ‘n ouer te wees buite God se plan vir verbondsouers. So ‘n lewe is verkeerd voor die Here.

Om te dink ouers mag hulle kinders grootmaak soos ouers wil, is om die afgod van die eie-ek in die huis te hê. Dit is sonde waar bekering nodig is.

  1. Kinders in ‘n gesin gemeet aan God se plan.

Ons kry die volgende kinders in die Ou Testament:

  • Sem, Gam en Jafet . Noag het na die sondvloed ‘n wingerd verbou en wyn gemaak. Hy het op ‘n dag te veel gedrink en dronk sonder klere aan in sy tent gelê. Gam het sy pa gesien en spottend vir sy broers daarvan vertel. Met hierdie gesindheid het Gam sy ouer wat die Here aan Hom gegee het, se vernedering vererger.
    Sem en Jafet het met die respek wat die Here van gelowige kinders verwag opgetree. Hulle het klere van hulle pa gevat en oor hulle pa gegooi. Hulle het selfs agteruit geloop om nie hulle pa sonder klere te sien lê nie.
  • Josef en sy broersGen.37:2,4,8,11. Josef het geweet sy pa het hom liewer as vir sy  broers. Hy het daarom gereeld slegte stories oor sy broers aan Jakob vertel. Die ander broers het ‘n afkeer van Josef gekry en niks goeds oor hom gesê nie. Die seuns in Jakob se gesin het ‘n baie slegte verhouding met mekaar gehad.
  • Hofni en Pinehas1 Sam.1:15-17. Hierdie twee seuns van Eli het buite die grense wat die Here vir priesters in sy tempel gestel geleef. Hulle het hullself verryk uit hulle diens as priesters. Hulle het glad nie na hulle pa geluister toe hy hulle probeer teregwys het nie.
  • Absalom en Dawid – 2 Sam.13:23-30. Absalom het homself hoër as sy pa, Dawid geag. Hy was ontevrede met sy pa en het teen hom in opstand gekom.

Ons sien die volgende by kinders in verbondsgesinne in die Ou Testament: Sommige kinders leef verkeerd en ander leef reg (Noag se seuns). Kinders het soms ‘n baie slegte verhouding met mekaar en leef in onenigheid in ‘n gesin (Jakob se seuns). Kinders leef nie met heilige eerbied vir die Here nie en ook nie met respek vir ‘n ouer nie (Eli se twee seuns). Kinders is so ontevrede met ouers, dat hulle in opstand kom (Absalom, Dawid se seun).

Gemeet aan God se plan vir kinders, het ouers en kinders hierdie vraag om voor die Here te antwoord: Hoe lyk ons lewe as ouers, hoe lyk ons lewe as kinders in ons gesin?

  1. ‘n Verbondsgesin se antwoord aan die Here.

In wat ons lees en sien en hoor, beleef die gesinslewe in Suid-Afrika ‘n ernstige krisis. Die verhouding tussen verbondsouers, tussen verbondsouers en verbondskinders en tussen kinders onderling is dikwels nie goed en reg voor die Here nie.

Ons kan sê dat verbondsgesinne, ouers en kinders te veel keer buite God se plan leef. Sy plan is dat ‘n  verbondsgesin wat soveel genade ontvang het, Hom sal dien soos Hy gedien wil word.

Wat staan elke verbondsgesin te doen?

  • Selfondersoek of ons gesin volgens die Here se plan binne sy grense vir ‘n verbondsgesin leef.
  • Indien verhoudings in ‘n verbondsgesin, gemeet aan die Here se plan, nie is soos die Here dit wil nie, is die antwoord: Terug na die Here. Breek deur die Heilige Gees met die verkeerde en doen wat reg voor die Here is.

God het ‘n plan vir elke verbondsgesin. ‘n Gesin wat Hom met gelowige harte dien, is ‘n gesin met wie dit goed gaan en dit is sulke gesinne wat Christus se kerk, wat hierdie land nodig het.

ANTWOORD
Sing: Ps.105:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.18:12,14
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen