Home Preke God se volmaakte plan vir ons God die Vader het ‘n ewige plan met ons

God die Vader het ‘n ewige plan met ons

Datum: 2025-01-26
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Ef.1:4,5.

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God die Vader en Jesus Christus die Here deur die kragtige werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.1-1:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.99:1,5
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Skb.1-1:3,7
Lees: Efesiërs 1:1-14.
Kernverse: Ef.1:4,5.
Tema: God die Vader het ‘n ewige plan met ons.
Sang: Skb.1-1:1,2; Ps.9:1,7,10; Ps.99:1,5; Skb.1-1:3,7; Ps.90:1,9; Ps.84:2,6

Inleiding:

Die preekreeks gaan oor God se plan vir ons lewe. Verlede week het ons in Rom.8 gesien en gehoor dat God ‘n volmaakte plan vir ons het. Vanoggend is die Bybel by Ef.1 oop. In hierdie deel van Paulus se brief kan ons sien en hoor dat God ‘n ewige plan met ons het.

Tema: God die Vader het ‘n ewige plan met ons.

  1. God se plan begin reeds in die ewigheid.

Die Heilige Gees het Paulus die volgende woorde in Ef.1:4 laat skryf: “So het Hy nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.”

Voordat die wêreld geskep is” beteken in die ewigheid. Hy, dit is God die Vader het ons in die ewigheid uitverkies. Die ewige, genadige God die Vader het in die ewigheid, voor enigiets of enigiemand nog bestaan het, op sy plan met ons besluit.

Die volgende is belangrik om te besef en te glo oor die ewigheid van God se plan:

  • God die Vader se ewige plan met ons beteken sy plan begin in die ewigheid en hou aan tot in die ewigheid. In Rom.8:28 het ons gesien dat God ‘n volmaakte plan met ons het en dat Hy alles laat meewerk na die ewige heerlikheid wat op ons wag wanneer die Here Jesus Christus weer kom.
  • Dat God se plan met ons van ewigheid tot ewigheid is, beteken sy plan met ons is vas en seker. Ons hoef nie een enkele oomblik hieroor onseker te wees of te twyfel nie.
  • Daar is niks en niemand op die aarde wat hierdie plan van God die Vader met ons kan keer of kan laat ophou nie. Veral wanneer dit baie swaar gaan, wonder ons waar God is en wat die sin en betekenis van ons lewe is. In sulke tye is dit nodig om te onthou en te vertrou met die geloofskrag wat die Heilige Gees ons gee, dat niks en niemand aan God se ewige plan met ons kan verander nie.

Nog twee dinge is belangrik.

Die eerste – Die ewige plan is GOD DIE VADER se plan. Reeds in die ewigheid toe nie een van ons nog geleef het nie, het God op sy  plan met ons besluit. Hy is die volmaakte Vader in die  hemel. Sy ewige plan met ons is daarom die plan van ‘n Vader wat genade en liefde gee..

Waarom het God ons reeds in die ewigheid deel van sy ewige plan gemaak? Dit is net uit genade. Genade is God die Vader se goedheid en liefde vir ons sonder dat ons iets hoef te doen. Sy plan was uit liefde vir ons. Hy het ons nog voor die skepping, in die ewigheid reeds liefgehad. Sy plan met ons is van ewigheid tot ewigheid om ons volmaak en ewig lief te hê. Hier is dit weer belangrik om te weet en te besef en te glo dat God die Vader se liefde vir ons nooit verander nie.

Die tweede – God se plan met ons het begin, as mens dit so kan sê, toe Hy ons in die ewigheid vir Hom gekies het. Wanneer ons dit in Ef.1:4 lees en hoor dat God die Vader, die almagtige Skepper van die hemel en aarde ons  in die ewigheid uitverkies het, dit is gekies het om syne te wees, behoort elkeen van ons stom van verwondering te wees.

Die ewige, allerhoogste, heilige God het ons in die ewigheid gekies om aan Hom te behoort!

2. Hy voer sy plan deur Christus uit.

Dit is wonderlike genade om te mag lees en te mag hoor dat God se volmaakte plan met ons, ‘n ewige plan is!

Die vraag is: Hoe voer God sy ewige plan uit dat ons daarvan kan weet en kan glo dat die allerhoogste God ons Vader is? Dit is nodig dat ons die antwoord op hierdie vraag sal ken. God die Vader hou nie sy plan met ons geheim nie. Hy vertel ons van sy ewige plan. Dit is ook wonderlike genade dat ons nie onseker hoef te wees en ons lewe deur hoef te wonder of God ‘n plan met ons het en wat sy plan is nie.

God die Vader van ons Here Jesus Christus maak sy plan aan ons bekend.

Hy het ons uitverkies. Hy het ons “in Christus” uitverkies. “In Christus” beteken op grond van Christus. God het my in die ewigheid gekies om aan Hom te behoort op grond van Jesus Christus. Christus was reeds in die ewigheid bestem om ons van al ons sonde te verlos. God die Vader het sy eie Seun reeds in die ewigheid bestem om aarde toe te kom om sy lewe vir ons aan die kruis te gee vir ons uit die dood op te staan om so ons Verlosser te wees.

Hier kom ons by twee belangrike dinge –

Die eerste – God het ons gekies voor die skepping en op grond van Jesus Christus. ons is nie die wat kies nie. Ons kon ook niks doen om gekies te word nie. Dat God ons uitverkies het is net genade en liefde.
Die tweede – Soveel Christene vra, wonder, is onseker oor ons uitverkiesing. Hier leer ons dat Jesus Christus ons sekerheid is dat sy Vader ons uitverkies het. Elke Christengelowige wat in Jesus Christus glo, kan seker wees dat God my uitverkies het. Elkeen van ons se hele lewe rus op Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het.

Ons weet dit alles, ons glo dit, ons is heeltemal seker hiervan, want ons het DIE BYBEL en ons het DIE HEILIGE GEES!

3. Deur Christus is ons kinders en erfgename.

Dit bring ons by Ef.1:5“In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees.”

God die Vader se ewige  plan is ‘n plan uit liefde. Hy het ons in die ewigheid voor die skepping reeds liefgehad met ‘n volmaakte liefde. Hy het reeds in die ewigheid gewys hoe lief Hy ons het.

Sy liefde vir ons wys in sy genadige beskikking. Sy genadige beskikking is sy besluit wat Hy oor ons geneem het. Bestem en beskik is woorde wat dieselfde beteken. God se genadige beskikking is dat Hy ons bestem het om deur Jesus Christus sy kinders te wees. Hier lees ons van wonderlike liefde en genade vir ons. God het in die ewigheid besluit dat ons sy kinders sal wees! Van ewigheid tot ewigheid is God ons Vader wat ons volmaak liefhet en versorg.

Dink net weer hieroor na: Die ewige, almagtige, alwetende, oralteenwoordige, allerhoogste God se ewige plan is dat ons deur Jesus Christus sy kinders sal wees! As sy kinders is sy ewige plan met ons dat ons sy erfgename sal wees. Sy erfgename se erfdeel is ‘n plek by Hom in die hemel.

God die Vader het uit LIEFDE en GENADE hierdie plan met ons!

God die Vader het ons gekies om as sy kinders “ heilig en onberispelik voor Hom te wees” (Ef.1:4.)

HEILIG beteken: Ons is uitverkies om aan God te behoort, om vir Hom afgesonder te wees, om met oorgawe vir Hom te leef. Reeds in die ewigheid was God die Vader se plan met ons om nie verlore te gaan onder die mag van die duiwel en die sonde nie. Deur sy Seun wat ons verlos, sou ons die ewige lewe hê.

ONBERISPELIK beteken: Skoongewas van alle sonde. God die Vader se ewige plan is dat sy Seun, Jesus Christus ons sonde weg sal neem. Hy doen dit deur ons sonde op Hom te neem en met ons sonde op Hom aan die kruis te sterf en vir ons uit die dood op te staan en aan ons nuwe lewe te gee. Deel van God se ewige plan is dat die Heilige Gees in ons leef en ons lei en help om as gelowiges wat van sonde skoongewas is, te leef.

Ons as kinders en erfgename van God kan met die grootste sekerheid weet en glo: God se ewige plan met ons, is dat ons aan die einde in die hemel voor sy troon sal wees: HEILIG en ONBERISPELIK!

4. Ons kan met lof in ons harte voor God leef.

Ef.1:3-14 is in werklikheid ‘n lied oor God die Vader se ewige plan met ons. In vs 3 kry ons die woorde“Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe!”Die lied in die begin van die Efesiërbrief is ‘n loflied. ‘n Loflied is ‘n lied uit ‘n bly hart, ‘n lied vol dankbaarheid, ‘n lied van verwondering oor die liefde, die genade en die goedheid van God.

God se liefde, genade en goedheid in sy ewige plan met ons is so wonderlik dat die lied ‘n koorgedeelte het, kan ons sê, wat herhaal word. Ons kry die koorgedeelte in vs 6, vs 12 en vs 14.

Vs 6Daarom moet ons God prys vir sy groot genade wat Hy in sy geliefde Seun vrylik aan ons geskenk het. Ef.1:1-14 is oop voor ons. Ons lees en hoor van God se liefde wat Hy in Christus aan ons bewys het. Ons glo in Christus, God se Seun, Ons Verlosser. Hierdie genade en liefde kan ons nie binne ons wegsteek en daaroor stilbly nie. Met my hart en mond moet ek saam met ander Christengelowiges God prys.

Vs 12 –  “Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys.” Christus is ons hoop, dit is ons sekerheid van God se ewige plan met ons. Die Heilige Gees gee ons hierdie sekerheid deur God se Woord, die Evangelie van Jesus Christus wat vir ons gekruisig is en opgestaan het. Omdat ons as Christengelowiges sekerheid het in ‘n deurmekaar wêreld en ‘n lewe met soveel verwarring, kan ons en moet ons die grootheid van God prys.

Vs 14“Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.”

Die Heilige Gees is die waarborg”. Hierdie woorde het ‘n baie spesiale betekenis.

Die Heilige Gees wat in ons gekom het, ons wedergebore laat word het en geloof in ons hart gegee het, is die eerste deel. Die tweede deel, die volle deel kry ons wanneer die Here Jesus Christus weer kom om ons na Hom in die hemel te neem waar ons altyd by Hom en by God ons Vader sal wees. God se ewige plan met ons behels dat dieselfde Heilige Gees wat ons die eerste deel laat kry het, ons ook die tweede deel sal laat kry. Omdat ons deur die Heilige Gees sekerheid van ons volmaakte ewige verlossing het, kan ons en moet ons God se grootheid prys.

Slot: God het ‘n ewige plan met ons. Ons lewe is vas geanker in God ons Vader se ewige plan van genade en liefde.

Is daar dinge wat tans in jou lewe gebeur, wat jou laat wonder oor die lewe? Wonder jy of God ‘n plan met jou het en of sy plan met jou ‘n plan van genade en liefde is?

Maak die Bybel by Ef.1:1-14 oop.

Lees die verse met ‘n gebed in jou hart.

Luister na die Heilige Gees. Hy sal jou die sekerheid gee van God die Vader se ewige plan met jou.

Sy plan is ‘n ewige plan van GENADE en LIEFDE vir jou, sy kind en sy erfgenaam, want JESUS CHRISTUS het vir jou gesterf en opgestaan!

En…ons God en Vader se ewige  plan met ons SAL NOOIT VERANDER nie!

ANTWOORD
Sing: Ps.90:1,9
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.84:2,6
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God ons Vvader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle wees.
Amen