Home Preke God se volmaakte plan vir ons Liggaamlike agteruitgang en geestelike vernuwing as deel van God se plan

Liggaamlike agteruitgang en geestelike vernuwing as deel van God se plan

Datum: 2025-08-24
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: 2 Kor.4:16

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.34;1,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed

VEROOTMOEDIGING
Sing: Ps.31:7,8,12
Lees: 2 Korintiërs 4:16-5:5
Kernverse: 2 Kor.4:16
Tema: Liggaamlike agteruitgang en geestelike vernuwing as deel van God se plan.
Sang: Ps. 34:1,4; Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Ps.31:7,8,12; Skb.18-6:1,2,3,4; Skb.10-2

Inleiding:

Elke Christengelowige behoort aan Jesus Christus en deur Hom aan God. Ons leef onder God se ewige  plan vir ons toekoms. ‘n Deel van God se plan met ons is dat ons uiterlik sal vergaan en innerlik sal vernuwe.

Tema: Liggaamlike agteruitgang en geestelike vernuwing as deel van God se plan.

  1. God het ‘n ewige toekomsplan met ons

Die Here is die ewige God. Wanneer ‘n mens oor God praat, is dat Hy ewig is een van die heel eerste dinge wat opkom. In een van ons belydenisskrifte, die Nederlandse Geloofsbelydenis, is die eerste artikel ons belydenis oor God. Reeds in die begin van hierdie geloofsbelydenis van gereformeerde gelowiges oor die wêreld, kry ons die woord “ewig”. God is ewig.

God se werk is daarom ook ewig. So het Hy, die almagtige Skepper, die eerste mense ook geskep om ewig te leef. God het die eerste twee mense na sy beeld geskep. Al die ander mense wat na hulle sou kom, sou ook mense na God se beeld wees.

Om na God se beeld geskep te wees, beteken:

  • Die mens kon God reg ken met hart en verstand en in die regte verhouding met Hom leef, soos Hy wou. Die eerste mense is so geskep dat hulle God kon gehoorsaam in alles wat Hy verwag het.
  • Die mens kon God uit die hart opreg liefhê. Die eerste twee mense het naby God geleef en die skepping uit liefde vir God regeer soos Hy gevra het.
  • Die mens kon ewig met God in ewige saligheid leef tot God se eer en lof.

Dit was God se volmaakte plan met die eerste mense wat Hy geskep het en al die mense na hulle.

Buiten dat God die eerste mense na sy beeld geskep het, het Hy hulle verder toegerus om Hom in alles te gehoorsaam. Die Here het die eerste mense toegerus om Hom te gehoorsaam deur hulle te verbied om aan Hom ongehoorsaam te wees. Daarby het God ook duidelik gesê dat die gevolg van ongehoorsaamheid aan Hom, die dood sal wees.

Ons kan sê: God het die eerste twee mense geskep dat hulle in staat was om nie te sondig nie en gevolglik nie te sterwe nie, maar ewig saam met Hom te leef. In die woorde van Gen.1:31: God het ook die eerste twee mense baie goed geskep.

Maar…toe gebeur die sondeval. Die eerste twee mense het alles verloor en die dood oor hulleself en al die mense wat na hulle sou kom, gebring.

Die verskriklike tragedie van die sondeval in die tuin van Eden met die duiwel, God se vyand, die groot verleier en aanhitser kon nie die Here se ewige plan keer nie. Reeds daardie dag het God die belofte van oorwinning oor die duiwel en al sy boosheid gemaak.

Baie eeue later het God daardie belofte waar laat word toe Hy sy Seun gegee het. Sy Seun, Jesus Christus, het mens geword. Hy het ons sonde op Hom geneem. Hy het met ons sonde op Hom bittere lyding verduur en ‘n wrede dood aan die kruis gesterf. Die derde dag het Hy vir ons uit die dood opgestaan. Deur sy dood en opstanding het Jesus Christus die straf op ons sonde gedra en vir ons die ewige lewe verwerf.

Elkeen wat in Jesus Christus wat gekruisig is en uit die dood opgestaan het, glo, is nie meer verlore onder God se oordeel nie, maar het die ewige lewe. Hierdie geloof kry ons by die Heilige Gees.

God se toekomsplan met almal wat in Christus glo en aan Hom behoort, is ‘n ewige toekoms van ewige saligheid. Die Heilige Gees gee ons hierdie geloofsekerheid.

2. Ons uiterlike mens vergaan

Die mens was van die begin af ‘n lewende wese met ‘n liggaam en siel. Die lewe van die eerste mense en ook al die mense na hulle was lewe met liggaam en siel. Ons kan sê dat daar ‘n innerlike mens en ‘n uiterlike mens is. Die uiterlike mens is uit die stof van die aarde geskep. Die innerlike mens het die lewensasem van God gekry. Dit is dieselfde mens, maar met ‘n innerlike en uiterlike.

Die gevolge van die eerste twee mense se sonde in die tuin van Eden was en is steeds verskriklik. Die dood het in alle mens se lewe, ons lewe ook, gekom. As gevolg van die sonde sterf die uiterlike mens en die innerlike mens. Die eerste twee mense het nie dadelik ophou leef na hulle gesondig het nie, maar die res van hulle lewe sou hulle met die gevolge van sonde leef om uiteindelik met liggaam en siel ewig te sterf. Die ganse mensdom na hulle sou ook met die gevolge van sonde leef en uiteindelik die ewige dood sterf.

God het in sy alwetendheid, sy almag, genade en liefde sy Seun gestuur om sondaars van van sonde en die ewige dood te verlos. Jesus Christus het deur sy kruisiging en opstanding ons volmaak verlos.

Die innerlike mens, die siel van elkeen wat glo, is nuut gemaak. Maar die uiterlike mens, ons liggaam, is nog aan die verkriklike nagevolge van die sonde onderhewig. So het God in sy alwetendheid en almag ook besluit.

Die woorde “al is ons uiterlik besig om te vergaan” vertel en leer ons dat die uiterlike mens se agteruitgang ‘n proses is. Die uiterlike mens is alles wat met ons liggaam te doen het – ons verstand, energie, die vermoë van ons liggaam om te kan funksioneer – om te kan sien, hoor, praat, loop, gesond te kan bly, onthou en al die ander dinge wat ons liggaam kan doen. Hierdie uiterlike is besig om te vergaan. Die Prediker het in hoofstuk 12 juis oor hierdie uiterlike agteruitgang geskryf.

Die vergaan van die uiterlike het te doen met die agteruitgaan van ons liggaam tot ons liggaam sterf en weer stof word. So het die Here in Gen.3:19 in sy oordeel oor die man gesê in en so het die Prediker die lewe bevind en dit neergeskryf (Pred.12:7).

Die uiterlike mens is nog onderhewig aan die gevolge van die sondeval. Daarom kan die uiterlike mens, ons liggaam nie in die ewige koninkryk van die hemel ingaan nie. Uiterlik moet ons dus vergaan. Ons moet verswak en agteruitgaan en uiteindelik sterf en stof word.

Alle mediese behandeling en medisyne is in werklikheid net tydelike hulpmiddels. Daar sal ‘n tyd in elkeen van ons se lewe kom, waar niks meer die vergaan van ons uiterlike sal kan minder swaar maak of vertraag nie. Ons almal moet sterf, want ons uiterlike kan nie soos ons is, in die hemel by Christus kom nie.Ons uiterlike is nog onvolmaak. By Christus in die hemel is daar net plek vir die volmaakte. Daarom moet ons uiterlike vergaan en uiteindelik sterf.

Dit is nie maklik om oor te dink en te praat en te aanvaar nie. Maar…elke gelowige wat aan Jesus Christus behoort, sal hierdie oorgawe moet maak dat ons uiterlik besig is om te vergaan en uiteindelik sal sterf. Die Here laat ons nie aan onsself oor om hierdie oorgawe te maak nie. Die Heilige Gees het gekom. Hy is ons Trooster en ons Helper. Hy gee ons die innerlike krag om te besef en te aanvaar dat ons uiterlike moet vergaan om uiteindelik te sterf.

Dat ons uiterlike, ons liggame  vergaan, is ook deel van God se plan met ons lewe.

3. Ons innerlike mens word vernuwe

Elke mens het ook ‘n innerlike, ‘n siel. Wie aan Jesus Christus behoort, se innerlike is nuut gemaak. Die Heilige Gees het vir ons wedergebore harte gegee wat in Christus wat  vir ons gesterf en opgestaan het, glo. Elkeen wat in Christus glo, is ‘n verloste nuwe mens wat die ewige lewe het.

Die Heilige Gees maak ons innerlik nuut. Hy maak ons innerlike mens elke dag nuwer deur die Evangelie van Jesus Christus, ons Verlosser. Die Gees maak ons al nuwer deur ons geloof in Christus te laat groei. Hy laat ons insig in die Evangelie groei en ook ons liefde vir God en ons gehoorsaamheid aan Hom. Die Heilige Gees laat ons ook groei in ons oorgawe aan ons Verlosser wat op God se tyd ons gaan kom haal. Die Gees laat ons ook in ons verlange na ons Verlosser groei.

Ons Verlosser kom haal ons wanneer ons sterf. Wanneer ons sterf, skei God ons liggaam, dit is ons uiterlike van ons siel, dit is ons innerlike. Ons uiterlike bly agter om stof te word. Ons innerlike gaan na Christus in die hemel toe. Ons het in Hand.7:59 ‘n baie sterk getuienis hiervan toe Stefanus in sy sterwensoomblikke uitgeroep het: “Here Jesus, ontvang my gees!”

Christus kom haal ons met sy wederkoms. Indien Hy weer kom voor ons sterf, sal Hy die liggame van wie reeds gesterf het opwek, in ‘n oogwink in ‘n verheerlikte  liggaam verander, liggaam en siel weer een laat word, en die volmaak nuwe mens by Hom in die hemel neem om ewig by Hom te wees. Indien ons nog lewe met Christus se wederkoms, sal Hy ons liggaam en siel in ‘n oogwink verander en saam met al die ander in die hemel by Hom neem.

Daar in die hemel, by God ons Vader en Jesus Christus ons Verlosser, sal ons in ewigheid leef, volmaak ewig en nuut met ‘n volmaak ewige toekoms.

Ons innerlike mens wat vernuwe word om uiteindelik saam met al die ander uitverkorenes by Christus ons Verlosser en God ons Vader te wees, is God se volmaakte plan vir ons volmaakte toekoms.

ANTWOORD
Sing: Skb.18-6:1,2,3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.10-2
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen