ONTMOETING
Votum: Ps.121:2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde
Sing: Ps.105:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.130:2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.105:4,5
Lees: Genesis 15; Daniël 12:8-13; Handelinge 7:54-60
Kernverse:Gen.15:15; Dan.12:13; Hand.7:59
Tema: God se plan – Einde van lewe op aarde en vertrek hemel toe
Sang: Ps.105:1,2; Ps.71:9; Ps.130:2; Ps.105:4,5; Skb.18-7:1,3; Skb.18-7:11,12
Inleiding:
Abraham…Daniël…Stefanus…name van drie gelowiges wat baie eeue gelede baie ver van ons af geleef het. Maar…name wat in God se Woord, die Bybel geskryf is vir ons om te lees en te glo dat God se plan met ons is dat ons lewe op aarde tot ‘n einde sal kom en ons na die hemel toe sal vertrek.
Tema: God se plan – Einde van lewe op aarde en vertrek hemel toe
God vertel ons en leer ons in sy Woord, die Ou Testament van die enigtse ooreenkoms wat Hy met die sondige en verlore mensdom gesluit het. Hierdie ooreenkoms is sy verbond van genade. Ons kan praat van God se ewige genadeverbond.
Verbond is ‘n ooreenkoms soos in ‘n testament. Wie in die genadeverbond is, is in God se ewige testament as kind van die lewende God en erfgenaam van die ewige lewe wat Hy gee.
Genade beteken God se goedgesindheid sonder dat enige mens dit verdien het. Abraham en sy familie het in Ur van die Chaldeërs, die hedendaagse Irak, ander gode gedien. Die Here het Abraham daar weg laat trek na ‘n land waar Hy ‘n nuwe begin met Abraham gemaak het, sonder dat Abraham enigiets verdien het. Die nuwe begin is die ewige genadeverbond met Abraham en sy nageslag.
Die genade wys verder daarin dat Isak, Abraham se seun in die genadeverbond opgeneem is, sonder dat hy die verdien het, terwyl Ismael wat ook Abraham se seun was nie in die genadeverbond opgeneem is nie.
Die genade wys ook in ons lewe. Ons wat vandag leef is net om een rede ook in die ewige genadeverbond…Die Rede is JESUS CHRISTUS!
Wie aan die Here Jesus Christus behoort, is ook deel van die nageslag van Abraham en kind en erfgenaam in die genadeverbond. Ons het Christus nie verdien nie. Ons het ook nie vir Hom gevra nie. Hy het net uit genade gekom en sy lewe vir ons gegee dat ons wat in Hom glo, in die genadeverbond kan wees.
2. Lewe op aarde is nog onvolmaak en kom tot ‘n einde
In die sluit van die genadeverbond het God daardie dag sekere dinge gesê en sekere bepalings gemaak. Niks wat God sê, is ooit onbelangrik nie. Vir vanoggend se preek wys ek op een belangrike ding wat God die dag met die sluit van sy ewige genadeverbond vir Abraham gesê het: “Jy sal in vrede sterf en op hoë ouderdom begrawe word” (Gen.15:15).
Abraham het in God geglo. Daar was vrede tussen hom en God. Abraham was in God se ewige genadeverbond, daarom was daar vrede in sy lewe.
Al was Abraham in die ewige genadeverbond, sou hy nie vir altyd op aarde bly leef nie. Hy sou sterf. Sy lewe op aarde was nog onvolmaak. Sy lewe sou tot ‘n einde kom. Sy lewe het tot ‘n einde gekom. Abraham het gesterf.
Abraham het in vrede met God geleef. Hy sou ook in vrede met God sterf. Hierdie is sulke belangrike woorde vir Abraham: “Jy sal in vrede sterf”. Elke gelowige in die genadeverbond sal ook in vrede kan sterf. Ons het nodig om in ons harte en ons gedagtes vas en seker te weet: Ons is in die ewige genadeverbond, maar ons sal sterf. Ons lewe op aarde is nog onvolmaak en kom tot ‘n einde.
Abraham sou in hoë ouderdom sterf en begrawe word. Dit het nie net gebeur nie. God het Abraham se lewe so bepaal. Om in vrede te sterf en begrawe te word, was deel van God se plan met Abraham se lewe.
Om begrawe te word, is daarom nie onbelangrik nie. God het met Abraham daaroor gepraat met die sluit van die ewige genadeverbond. Ons weet dat die Here vir Moses begrawe het (Deut.34:6). God het ook met Daniël daaroor gepraat.
Ook Daniël het met ‘n gelowige hart in vrede met God geleef. Hy het ook ‘n belofte van God ontvang dat ook hy in vrede sou sterf. Luister na God se belofte aan Daniël: “Maar hou jy aan tot die einde toe. Jy sal te ruste gelê word, maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvan in die eindtyd” (Dan.12:13).
Daniël sou te ruste gelê word. Ook hierdie woorde het God gesê vir hierdie kind en erfgenaam in sy ewige genadeverbond. Daniël se lewe op aarde sou ook tot ‘n einde kom. Hy sou sterf en te ruste gelê word. Om te ruste gelê te word beteken om in die graf te rus. Dit is Daniël se liggaam. Om te sterf en te ruste gelê word, was deel van God se plan met Daniël.
Die Here vertel en leer elkeen van ons dat die einde van ons lewe op aarde ook deel van God se plan met ons lewe is. Om te sterf gebeur nie net nie. Om te sterf is die einde van die onvolmaakte lewe op aarde.
Abraham se liggaam en Daniël se liggaam het op aarde agtergebly in die graf. Elke mens se lewe op aarde sal tot ‘n einde kom. Elkeen van ons se lewe sal tot ‘n einde kom. Ons onvolmaakte liggame sal op hierdie onvolmaakte aarde agterbly. Dit is God se plan ook met elkeen van ons.
3. Elke gelowige in die genadeverbond vertrek met sterwe hemel toe
‘n Liggaam wat op aarde agterbly was ook deel van God se plan met Stefanus se lewe. Stefanus het ‘n sterk geloof gehad. Hy was vol van die Heilige Gees. Hy was ‘n kind en erfgenaam in die genadeverbond. Die Here het Stefanus gebruik om die Jode te leer dat hulle nie aan die wette en voorskrifte van die Ou Testament moes vashou en dink om daardeur gered te word nie.
Stefanus het die Joodse Raad sterk hieroor aangespreek dat hulle doof is vir die Evangelie van Christus en die Heilige Gees weerstaan. Hierdie woorde het die Joodse Raad woedend gemaak. Toe Stefanus vol van die Heilige Gees gesê het dat hy die Seun van die mens aan die regterhand van God sien staan het (Hand.7:55) het die Joodse Raad hom uit die stad gesleep en gestenig.
Dit het nie lank geneem voor Stefanus onder die geweld van die klippe gesterf het nie. Ook sy liggaam het op die aarde agtergebly.
Maar…vol van die Heilige Gees in hom het Stefanus kort voor sy dood die volgende woorde uitgeroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” (Hand.7:59).
Stefanus se liggaam, sy onvolmaakte liggaam het op die onvolmaakte aarde agtergebly, maar sy siel, verlos en nuut gemaak het van die aarde af na die hemel vertrek.
Hoe werk hierdie geweldige gebeurtenis? Hoe vertrek ‘n gelowige van die aarde na die hemel toe? Daar is soveel om hieroor te sê.
Ons vertrek van hierdie onvolmaakte aarde na die volmaakte hemel met ons sterwe is eweneens deel van God se plan met ons. Ook hieraan behoort elke Christengelowige gereeld te dink. Meer nog: Ons elkeen behoort hierdie met ons hele hart vas en seker te glo: Die Here Jesus gaan op die dag wat God die Vader bepaal het, my siel by Hom in die hemel ontvang. Ek gaan van hierdie onvolmaakte aarde na die volmaakte hemel vertrek om by Christus te wees.
4. In die hemel is lewe binne die genadeverbond volmaak
Oor die lewe in die hemel lees ons reeds in die Ou Testament. Die Here het vir Daniël in die laaste gesig wat hy gesien het die volgende sekerheid gegee: “…Jy sal te ruste gelê word, maar weer opstaan en jou bestemde deel ontvang in die eindtyd” (Dan.12:13).
Oor die bestemde deel in die eindtyd lees ons baie in die Nuwe Testament. Vir vanoggend se preek net die volgende:
Die volmaakte lewe in die genadeverbond in die hemel is ook deel van God se plan met ons.
Die doel van hierdie preek juis uit hierdie dele van die kosbare Boek, die Bybel, is bedoel om julle, Christus se gelowiges, te troos. Bêre deur die Heilige Gees hierdie troos diep in julle harte. Leef elke dag met hierdie troos, met hierdie vrede, sodat elkeen van julle in vrede kan sterf wanneer die Here Jesus Christus jou kom haal.
ANTWOORD
Sing:Skb.18-7:1,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-7:11,12
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen