ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.68:1,2
Geloofsbelydenis: Nicea
Sing: Skb.12-3/72:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20
Antwoord op die Wet: Ps.99:1,5
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.116:4,5
Lees: Ef.4:17-24
Kernvers: Ef.4:22-24
Tema: God se plan: Hy wil dat ons as sy beeld sal lewe.
Sang: Ps.68:1,2; Skb.12-3/72:1,2; Ps.99:1,5; Ps.116:4,5; Ps.138:1; Ps.116:7,8,9
Inleiding:
Vanoggend is ons by God se plan met ons dat ons as sy beeld sal lewe. Ons kyk na hierdie plan in Ef.4:17-24 in drie dele: God herskep ons deur Christus as sy beeld, Hy maak ons nuwe mense en Hy wil dat ons as sy beeld heilig en volgens sy wil sal leef.
Tema: God se plan: Hy wil dat ons as sy beeld sal lewe.
God is die Skepper van die hemel en die aarde. Hy is die Skepper van elke mens. God, die almagtige Skepper het die mens as sy beeld geskep. Wat beteken dit dat die mens as God se beeld geskep is?
God het die mens goed en geregverdig en heilig geskep. Dit beteken die volgende:
Daarom word die mens die kroon, die hoogtepunt van God se skepping genoem.
Hierdie is God se plan met elke mens op aarde, man en vrou. Hierdie is God se plan met elkeen van ons.
Toe kom die verskriklike geskiedenis van Genesis 3!!!
Die mens sondig en VERLOOR ALLES!!!
Die eerste twee mense het die duiwel in hulle lewe toegelaat. Hulle het die duiwel eerder as vir God geglo. Hulle het gedoen wat God hulle verbied het om te doen en die duiwel hulle verlei het om te doen. Adam en Eva het moedswillig gesondig deur ongehoorsaam aan God te wees. Deur hulle sonde het hulle die ewige dood oor hulle en al die mense wat na hulle sou kom, gebring.
Na daardie dag in die tuin van Eden kon die sondige mens nie meer as beeld van God leef en sy verteenwoordiger op aarde wees nie. Met die sonde wat ons almal geërf het en die sonde wat ons doen, kan ons nie as beeld van God leef nie.
Maar…God is ewig onveranderlik. Hy verander nie. Sy plan met die mens verander nie.
Hy stuur sy Seun na die aarde. Jesus, God se Seun, word mens. Hy is in alles die beeld van sy Vader, God die almagtige Skepper.
Die Here Jesus Christus neem al ons sonde op Hom. Hy dra God se straf op ons sonde in ons plek. Hy sterf vir ons sonde in ons plek aan die kruis. Hy verlos ons van sonde en die dood. Hy staan op die derde dag op uit die dood. Hy oorwin die dood. Elkeen wat in Jesus Christus wat gesterf en opgestaan het glo, is deur hierdie geloof een met Hom en deel in alles wat Hy gedoen het. Deur Jesus Christus is elkeen wat in Hom glo, verlos en vrygemaak van sonde en die dood en die duiwel.
Deur sy Seun wat gesterf en opgestaan het, het God ‘n nuwe mensdom geskep. Ons kan sê dat God, die Skepper ons deur sy Seun herskep het. God het die heidene in die Griekse stad Efese wat die Evangelie van Jesus Christus gehoor het en in Hom geglo het, herskep. Hulle het gelowiges geword was as die beeld van God herskep is. God herskep elke mens wat in Christus glo as sy beeld.
Ons kan van God praat as ons Skepper.
Ons kan ook van Hom praat as ons Herskepper.
God se plan met ons is om ons deur sy Seun te herskep!
In die Bybel leer ons van die geestelike ou mens en die geestelike nuwe mens.
Die geestelike ou mens lyk so:
Ons sien soveel hiervan in ons land en ons omgewing. Wanneer ons hierdie dinge sien en hoor, is dit die ou mens wat nie in Christus glo nie en nog in die mag van die sonde is.
Dan is daar die mens wat as beeld van God herskep is en ‘n nuwe mens is.
Kyk ons na hierdie woorde “ken Christus” en “die ewige lewe” is ons by die mens wat as beeld van God geskep is en ‘n nuwe mens is. Elkeen wat deur Christus ‘n nuwe mens is, is ‘n nuwe mens omdat dit God se plan vir ons is.
Ons moet weet van die geestelike ou mens en hoe die geestelike ou mens is en wat die geestelike ou mens doen. Ons moet deur die Heilige Gees onsself voortdurend ondersoek dat ons nie soos die geestelike ou mens dink en praat en doen nie.
En…ons moet onsself ook ondersoek en af vra:
Glo ek dat ek deur Christus ‘n nuwe mens is?
Dink ek oor myself as ‘n nuwe mens wat as God se beeld herskep is?
Sê ek gereeld in my gebed vir God dankie dat Hy my as sy beeld herskep het en dat ek ‘n nuwe mens is?
Om ‘n as beeld van God ‘n nuwe mens te wees, is nie net woorde nie. ‘n Nuwe mens leef nuut. Dit is die derde deel van God se plan met ons wat as sy beeld herskep is. Hoe leef ‘n mens wat as beeld van God nuut herskep is?
Die Here vertel en leer ons om as sy beeld heilig en volgens sy wil te leef in Ef.4:22-24.
Vs 22 – “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër geleef het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.”
Met hierdie geestelike ou mens moet ons breek (83 vert) of hierdie ou mens moet ons aflê (53 vert). Die woord in Grieks “aflê” is ‘n woord wat gebruik is om klere uit te trek. Wanneer ons klere uittrek, het ons nie meer die klere aan nie. Die klere is weg van ons af. Die Here wil in Ef.4:22 dat die ou mens in die mag van sonde wat nog graag verkeerd wil doen, weg uit ons lewe moet wees. Ons moet die ou mens wat nie heilig en volgens God se wil leef nie, weg uit ons lewe kry. Soos die woord in die Grieks geskryf is, beteken “aflê” dit moet regtig gebeur.
Daar is in ons lewe soveel gedagtes, gevoelens, gewoontes, woorde en dade wat by die ou sondige mens hoort. Daarmee moet ons in die krag van die Heilige Gees breek.
Hierdie breek met die geestelike ou sondige mens, is in werklikheid bekering, die eerste deel daarvan.
In die volgende verse kom ons by die tweede deel van bekering.
Vs 23 – “Julle gees en gedagtes moet nuut word.”
Hierdie is so geskrywe dat dit ‘n voortdurende manier van lewe beteken. Die Heilige Gees in ons maak ons voortdurend innerlik nuut. Ons moet al meer deur die Heilige Gees beheers word – ons gedagtes, ons emosies, ons woorde, wat ons doen.
Al meer en meer moet ons deur die Heilige Gees in ons lewe. So ‘n lewe is ‘n lewe afgesonder vir God, dit is wat die woord heilig beteken. ‘n Lewe deur die Gees is ook ‘n lewe volgens God se wil, want die Gees lei my deur die Bybel, God se Woord.
God wil dat ons soos ‘n nuwe mens wat die Heilige Gees in ons lewe het en in Christus glo, sal lewe. In die Grieks het Paulus steeds die beeld van klere in vs 24 gebruik. “Trek die nuwe mens as klere aan” het hy geskryf. Wanneer ons klere aantrek, is die klere wat ons aan het, deel van ons. Dit is die beeld wat Paulus gebruik.
Die werklikheid is: God het ons deur Christus as sy beeld nuut gemaak. God wil dat ons nuut sal lewe. Die woorde is so geskryf dat dit regtig moet gebeur.
In ‘n land en omgewing waar ons soveel van die geestelike ou sondige mens sien en hoor, is dit regtig nodig dat ons wat as beeld van God geestelik nuwe mense is, sal wys ons is anders. Ons sal in ons huise, in die gemeente, by die werk en oral waar ons gaan die nuwe mens se klere aan moet trek. Ons sal as nuwe mense die beeld van God moet wys. Dit is die derde deel van God se plan met ons as sy beeld.
Dit bring ons elkeen by selfondersoek: Leef ons as beeld van God? Leef ons heilig en volgens sy wil? Wanneer ons praat, hoor mense dat ons nuut is? Wanneer mense sien wat ons doen, sien hulle ‘n nuwe mens wat as beeld van God herskep is?
Hiervoor het ons die Heilige Gees nodig, want self sal niemand van ons as beeld van God nuut kan leef nie. Dit is daarom nodig om gereeld in ons gebed plek te maak om te vra dat die Gees ons sal help om in ‘n sondige land en omgewing as beeld van God nuut te leef.
ANTWOORD
Sing: Ps.138:1
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.116:7,8,9Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen