Home Preke God se volmaakte plan vir ons God se plan vir ons is lewe in sy ewige genadeverbond

God se plan vir ons is lewe in sy ewige genadeverbond

Datum: 2025-02-09
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Gen.17:7,9.

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.89:1,2
Geloofsbelydenis: Nicea
Sing: Skb.12-3:1,23

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.119:6,7
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.146:4,8
Lees: Genesis 17.
Kernverse: Gen.17:7,9.
Tema: God se plan vir ons is lewe in sy ewige genadeverbond. 
Sang: Ps.89:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.119:6,7; Ps.146:4,8; Ps.105:4,5; Ps.119:1,39.

Inleiding:

Gelowiges in die genadeverbond gebruik nagmaal. Nagmaal is deel van lewe in die genadeverbond. Omdat nagmaal so heilig, so belangrik en so kosbaar is, het gelowiges in die genadeverbond nodig om baie goed vir nagmaal voor te berei.

Nagmaal en die genadeverbond staan nie los van mekaar nie en ook nie los van God se plan vir ons lewe nie. Nagmaal vir gelowiges in die genadeverbond is deel van God se plan vir ons.

Tema: God se plan vir ons is lewe in sy ewige genadeverbond. 

  1. Ons is nietige en sondige mense voor die Here.

God het ‘n verbond met Abraham gesluit. Ons praat van die genadeverbond. Waarom so? Kom ons kyk na die mens wat Abraham was. Ons kry getuienis oor Abraham en sy mense in Jos.24:2,3“Toe sê Josua vir die hele volk: “So sê die Here die God van Israel: Lank gelede het julle voorvaders – onder hulle was Tera, vader van Abraham en Nahor – anderkant die Eufraat gewoon en hulle het ander gode gedien…”

Dat Abraham en sy familie ander gode gedien het, wys dat hy ‘n nietige en sondige mens voor die Here. Hierdie waarheid dat ons nietige en sondige mense is, kry ons deur die Bybel, in die Ou Testament en die Nuwe Testament.

Voor ons by die sondige en nietige mense in die Bybel kom, eers die volgende:

  • Ons leef in ‘n tyd waar die wêreld nie meer van iets soos sonde wil weet nie. Met die wêreld bedoel ek al die mense in ons omgewing, ons land en die wye wêreld wat nie ernstig oor God en geloof in Hom is nie. Hierdie mense steur hulle nie aan sonde nie, want hulle steur hulle nie aan die Here nie. Dit is een groot rede waarom die misdaad in ons land so erg is: Mense steur hulle nie aan sonde nie en ook nie aan die Here nie.
  • Ons leef ook in ‘n tyd waar kerkmense dikwels twee gedagtes oor sonde het. Die eerste is dat sonde nie so erg is nie. Lidmate in ‘n gemeente doen nie regtig meer sonde wat erg is nie. Die tweede gedagte is, nou dat Jesus Christus vir ons gesterf het, is dit nie meer nodig om so ernstig oor sonde te wees nie. Ons hoef net met dankbaarheid en lof in ons harte te leef.

Wel, hierdie manier van dink en leef en glo deur die mense van die wêreld en die mense van die kerk is die teenoorgestelde van wat God in sy Woord sê. Hier is die voorbeelde van nietige sondaars in die Ou en die Nuwe Testament:

  • Die Here self getuig van Job: “Sy gelyke kry jy nie op aarde nie: hy is vroom en opreg, hy dien My en vermy die kwaad” (Job 1:8).  Wanneer Job God ontmoet en Hom regtig leer ken, kom die volgende woorde uit sy mond: “Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as” (Job 42:5,6).
  • Dawid was ‘n gelowige, ‘n man na God se hart (Hand.13:22). Luister hoe het Dawid deur die Heilige Gees oor homself in Ps.51:5 geskryf: “Ja, my oortredings ken ek en van my sonde bly ek altyd bewus.”

Nou mag iemand dink, ja maar dit is die Ou Testament voor Christus gekom het. Kom ons luister na ‘n gelowige in die Nuwe Testament wat die Here Jesus goed geken het:

  • Paulus het die Here Jesus in sy lewe ontmoet en goed geken. Hy was ‘n apostel wat sy lewe afgesonder het om vir Christus te werk. So getuig hy van homself in Rom.7:19“Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek” en Rom.7:24“Ek, ellendige mens! Wie sal my van  hierdie doodsbestaan verlos?”

Dit is baie verkeerd en juis ook sonde om te dink dat sonde nie so erg is nie en ons in ons tyd nie meer so baie oor sonde hoef te dink en te praat en so ernstig oor sonde te bid nie. Die lidmaat in ‘n gemeente wat so dink, sal eintlik nie nagmaal mag gebruik nie.

Waarom nie? Om nagmaal reg te gebruik en nie God se oordeel oor onsself te eet en te drink nie, “is dit nodig om onsself vooraf reg te ondersoek.” Dit is die woorde in die nagmaalformulier.

Die eerste hoofpunt van ware selfondersoek is die volgende: “Ons moet nadink oor ons sonde en vervloeking en ons met diepe berou hieroor voor God verootmoedig”. Die woorde kom ook presies so uit die nagmaalformulier.

Met voorbereiding staan elkeen van ons voor die Here met die vraag: Ken ek my sonde en vervloeking voor die heilige God? Ons het regtig nodig om voortdurend ook te groei in ons besef van ons sonde en vervloeking voor die Here. Die kerkmens wat nie ‘n goeie en sterk sondebesef het nie, sal ook nie ‘n goeie en sterk besef van die Here se genade hê nie.

  1. God het ‘n ewige genadeverbond met ons.

Genesis 17 is ‘n hoofstuk in die Bybel wat ‘n mens diep raak. Ons hoor in hierdie hoofstuk die wonderlikste woorde van die ewige genade en liefde wat God vir ‘n nietige en sondige mense soos ons het.

Ons almal het nodig dat ons lewe heeltemal sal verander. Met sy genadeverbond het God Abraham se lewe heeltemal verander en het Hy ons almal wat opreg in Hom glo, se lewe ook verander.

Kom ons kyk eers na die woord Genadeverbond. Verbond is ‘n vaste ooreenkoms. Maar dan ‘n ooreenkoms soos ‘n testament. In ‘n testament staan die name van die erfgename geskryf. Ons name staan in God se testament, sy genadeverbond geskryf as  kinders en erfgename

Genade beteken die verbond kom net van God af. Hy sluit die verbond, sonder dat enigiemand daarvoor gevra het. Abraham het nie gevra vir die verbond nie en dit ook nie verdien dat God juis met hom en sy nageslag die verbond sluit nie. Niemand van ons het ook gevra vir die verbond en niemand van ons verdien om in  die genadeverbond te wees nie.

Tog het God juis met ‘n nietige en sondige mens sy genadeverbond gesluit!

Die Here het vir Abraham gesê: “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte as ‘n ewige verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van nageslag” (Gen.17:7).

Die lewende, ewige, almagtige, heilige God is ook die genadige, getroue, barmhartige en liefdevolle God. Hy bind Hom aan ‘n nietige en sondige mens en sy nageslag met sy ewige genadeverbond. Sonder dat Abraham of Sara gevra het, sonder dat hulle dit verdien het, het God hulle name en die name van hulle nageslag in sy verbond, sy ewige testament opgeneem.

Hier kom ons net weer onder die indruk van die Here se genade. Abraham was nie beter as enigiemand anders nie. Hy was ‘n sondige mens. Sy sonde het in sy kleingeloof en sy eiewilligheid gewys. Ten spyte van sy sondigheid, het God hom in sy ewige testament opgeneem as sy kind en sy erfgenaam van die ewigheid.

Die genadeverbond is met Abraham en sy nageslag. Wie is Abraham se nageslag? Is ons ook deel van sy nageslag? Die antwoord op hierdie twee vrae kry ons in Gal.3:29“En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.”

Niemand is deur natuurlike geboorte in die genadeverbond nie!
Niemand is outomaties in die genadeverbond nie!

Dit is alleen deur OPREGTE GELOOF IN CHRISTUS, dat ‘n nietige en sondige mens in die genadeverbond is!

Hierdie geloof het niemand vanself nie. Hierdie geloof is ‘n genadegawe wat ons net by die Heilige Gees kry.

God maak sy volmaakte en ewige plan met ons in sy genadeverbond duidelik. Ons wat in die Here Jesus Christus glo en aan Hom behoort, ons is in die genadeverbond.

Om voor te berei vir nagmaal moet ons ernstige en eerlike selfondersoek doen. Elkeen van ons moet hierdie vraag aan onsself vra: Waar staan ek met Christus? Is my geloof in Hom regtig opregte en ware geloof?

  1. Hy verwag dat ons in sy genadeverbond sal leef.

Die genadeverbond het net een begin, dit is by God. Maar die genadeverbond het wel ‘n tweede deel. Ons kry hierdie tweede deel in Gen.17:9 – “Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte.”

Die Here het gehoorsaamheid binne die genadeverbond van Abraham en sy nageslag verwag. Elke lid van die manlike geslag moet op die ouderdom van agt dae besny word. Elkeen wat nie besny is nie, wil nie in die genadeverbond met God leef nie en word uit die verbond van die verbond afgesny. Hierdie bepaling het gewys hoe ernstig die Here oor gehoorsaamheid in sy genadverbond was.

Opregte gehoorsaamheid aan God kom net deur opregte  geloof.

In hierdie lewe is daar vals geloof. Dit is geloof in iets of iemand anders as die enigste ware God wat Hom in die Bybel aan ons bekend maak. Vandag is die moslems en die Jehova se getuies en die Afrikagodsdienste voorbeelde van vals geloof.

Daar is ook skyngeloof. Iemand lyk na ‘n gelowige of klink soos ‘n  gelowige, maar dit is net uiterlik en nie in die hart nie. Die kerkmense en die kerkleiers in Jesus se tyd op aarde het skyngeloof gehad. Vandag is die lidmaat wat godsdienstig lyk in ‘n gemeente, maar in wie se hart nie opregte geloof, opregte gehoorsaamheid, opregte liefde en opregte dankbaarheid is nie, ‘n voorbeeld van skyngeloof.

Dan is daar ware geloof, ons kan ook sê opregte geloof. Dit is geloof wat oorgaan in dade. Hierdie is geweldig belangrik. Jakobus, Jesus se een broer het in sy brief aan die eerste gemeente, maar ook aan elke gemeente so oor geloof en dade geskryf: “’n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood” (Jak.2:26).

Jakobus gee voorbeelde van dade wat van geloof getuig. Net nadat hy oor geloofsdade geskryf het in hfst 2, begin hy met die eerste geloofsdaad in hfst.3: Die beheersing van die tong –

Jak.3:1-12 – Ons moet ons tong beheers. Ons almal se tonge is ‘n rustelose kwaad vol dodelike gif (vs 8) wat uit die hel aan die brand gesteek word (vs 6).

Jak.3:13-18 – Ons dade moet wees met die wysheid wat God gee; nie met naywer en selfsug nie en nie spog nie, want hierdie dinge is aards, sinlik en duiwels en veroorsaak wanorde en gemene dade. Geloofsdade met wysheid wat God gee, wys in goeie gedrag en nederigheid, optrede sonder bybedoelings, vredeliewendheid, inskiklikheid, bedagsaamheid, medelye, goeie vrugte, onpartydigheid en opregtheid.

God se volmaakte en ewige plan met ons is lewe in sy ewige genadeverbond. Ons kan lewe in die genadeverbond so saamvat:

  • Dit is ewige lewe as kinders en erfgename van God.
  • Dit is lewe aan Christus gebind, en daarom lewe deur geloof, opregte geloof wat die Heilige Gees gee.
  • Dit is lewe deur opregte geloof is geloof wat tot dade oorgaan.

Met voorbereiding is dit ook nodig dat ons onsself sal ondersoek of ons harte van begeerte brand om met opregte geloof voor God te leef en ons geloof in ons dankbaarheid en ons liefde te wys.

Voorbereiding met die oog op nagmaal is ‘n belangrike tyd vir belangrike geestelike werk vir elke opregte gelowige in die genadeverbond wat nagmaal wil gebruik.

ANTWOORD
Sing: Ps.105:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.119:1,39
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen