ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.66:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Skb.9-3:1
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.2 – 4:1,3
Lees: Mark.12:13 – 34
Kernverse: Mark.12:28-34
Tema: God se plan vir ons lewe: Liefde vir God en liefde vir ons naaste.
Sang: Ps. 66:1,2; Ps.71:9; Skb.9-3:1; Skb.2-4:1,3; Ps.18:1,14; Ps.116:1,7,10
Inleiding:
Vanoggend is ons by die grootste gebod as God se plan vir ons lewe. Ons luister na wat die Here vir ons in die evangelie van Jesus Christus wat Markus geskryf het, oor die grootste gebod sê.
Tema: God se plan vir ons lewe: Liefde vir God en liefde vir ons naaste.
Dit was die Dinsdag voor Jesus gekruisig is, dat een van die skrifgeleerdes die vraag vir Jesus oor die heel grootste gebod gevra het. Voor ons by die vraag self kom, is dit nodig dat ons eers na belangrike agtergrond kyk.
Die gebooie van God het alles met die genadeverbond te doen. Die Here het die Tien Gebooie aan Israel gegee, omdat hulle sy verbondsvolk, sy gelowiges was. Die Here het deur sy Tien Gebooie openlik gewys dat Israel aan Hom behoort. Nie een van al die ander heidense volke soos die Egiptenare of die Moabiete of die Edomiete of watter heidense volk ook al, het die gebooie by die Here gekry nie, net Israel het.
Verder was die Tien Gebooie en al die ander wette in die Ou Testament wat uit die Tien Gebooie gevloei het, bedoel om Israel te leer en te wys hoe om die Here hulle God lief te hê en Hom uit liefde te gehoorsaam.
Al die wette in die Ou Testament het dus oor liefde vir God in die genadeverbond gegaan. Liefde vir God moes wys in gehoorsaamheid aan Hom volgens die Tien Gebooie. Die Tien Gebooie bestaan in werklikheid uit twee dele. Die eerste vier gebooie is die eerste deel en die tweede ses is die tweede deel. Ons kan selfs sê dat die Tien Gebooie en al die ander wette in die Ou Testament saamtrek in twee gebooie: Liefde vir God (gebod een tot vier) en liefde vir ons naaste (gebod vyf tot tien).
Hierdie samevatting van die Tien Gebooie kry ons in die Ou Testament self. Die gebod om God lief te hê, kry ons in Deut.6:4,5 – “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en met al jou krag”. Dit is die samevatting van die eerste vier gebooie. Die samevatting van die laaste ses gebooie kry ons in Lev.19:18 – “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot nie, jy moet jou naaste liefhê soos jouself”.
Van die heel begin het God gesê en geleer dat lewe in die genadeverbond ‘n lewe van liefde is: Liefde vir God en liefde vir ons naaste. Die Tien Gebooie en al die ander wette het die hele vir Hom tyd hieroor gegaan.
Die Fariseërs en skrifgeleerdes het die wette nie so gesien nie. Hulle het 613 wette in die Ou Testament gekry. Almal in Israel moes al hierdie wette nakom en so sorg dat hulle hulleself red. Die skrifgeleerdes het vas geglo dat hulle om gered te word, al die wette op die beste manier moet onderhou. Daarom het hulle gedurig geredeneer oor watter gebod die grootste, dit is die belangrikste was.
Met hierdie gesindheid in hom, het die skrifgeleerde hierdie vraag vir Jesus gevra. Hy het ook ‘n gemene bybedoeling gehad. Die Fariseërs het hom gestuur om met hierdie vraag ‘n strik vir Jesus te probeer stel. Indien Jesus enige van die 613 gebooie sou kies, was daar baie argumente om met Hom te verskil waarom ‘n ander gebod gelangriker was. Die Fariseërs het gedink om deur die geleerde man Jesus voor die mense in die verleentheid te bring.
Die skrifgeleerde het gevra na die heel grootste gebod. Jesus het hom geantwoord. Sy Vader het Hom as die Christus, die Verlosser gestuur om ons hoogste Profeet en Leraar te wees. As Profeet en Leraar moes Hy sy Vader se ewige raad en wil oor ons verlossing aan ons bekend maak. Deel van sy Vader se raad en wil oor ons verlossing is hoe Hy wil dat ons as verloste gelowiges in die genadeverbond sal leef.
God wil dat ons in sy genadeverbond met liefde vir Hom en liefde vir ons naaste sal leef. Die grootste gebod gaan nie oor die manier hoe ‘n mens jouself red om in die genadeverbond te kan wees nie. Ons mag nie so oor die Here se gebooie dink en glo nie. Inteendeel! Die grootste gebod gaan oor hoe gelowiges wat reeds in die genadeverbond is, volgens God se wil sal leef. Dit is met liefde vir Hom en liefde vir ons naaste.
Ons mag ook nie die gebooie teen mekaar opweeg asof die een gebod belangriker as die ander is nie. Gelowiges het dit al gedoen. Die sesde gebod om iemand dood te maak en die sewende gebod om egbreuk te pleeg, word vandag nog deur gelowiges gesien as belangriker gebooie as die derde gebod dat ons die Here se Naam nie mag misbruik nie en die vierde gebod om die rusdag deur te bring soos die Here wil. Deur so te dink en te leef, leef gelowiges nie binne die genadeverbond soos God wil nie.
God se plan vir al sy gelowiges se lewe is nie verskillende gebooie waar die een belangriker as die ander is nie. Sy plan met ons is een groot gebod: Liefde vir Hom met ons hele hart, ons hele siel, ons hele verstand en al ons krag en liefde vir ons naaste soos onsself.
2. Liefde vir God.
Jesus se antwoord oor die grootste gebod klink so: ““Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Mark.12:30).
Oor die eerste deel van die grootste gebod, kan ons die volgende sê:
Ons liefde vir God gee betekenis aan ons lewe. Om God lief te kan hê is ‘n wonderlike genade in elke gelowige se lewe. Met liefde vir God in ons harte, leef ons nie in die donkerte van ongehoorsaamheid en sonde nie. Inteendeel! Deur ons liefde vir God leef ons naby Hom en vir Hom en dit is lewe in die lig, nou reeds hier op aarde. Wanneer ons God met ons hele lewe liefhet, leef ons met sekerheid, leef ons gelukkig en het ons ‘n goeie en geseënde lewe.
3. Liefde vir ons naaste.
Hierdie antwoord van die Here Jesus wys ons dat die skrifgeleerdes ver van God se Woord en van Hom af was, al het hulle die Ou Testament elke dag bestudeer en goed geken.
Die groot gebod het ook ‘n tweede deel gehad. Jesus het die skrifgeleerde verder so geantwoord: “Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself’” (Mark.12:31).
Met hierdie tweede deel van die groot gebod praat die Here Jesus steeds met elke gelowige. “Jy moet jou naaste…” en wat daarop volg.
Die skrifgeleerdes het saam met die Fariseërs op die ander mense in Israel neergesien en hulle op ‘n afstand gehou. Die skrifgeleerdes het hulleself gesien as in die regte verhouding met God. Hulle was die verlostes, want hulle het in hulle eie oë die gebooie geken en gehoorsaam. Die ander in Israel was die sondaars wat verlore was.
Jesus het met sy antwoord geleer dat die groot gebod liefde was. Wat die Here Jesus geleer het, was die teenoorgestelde van wat die skrifgeleerdes gedoen het. Die skrifgeleerdes het neegesien op die ander in Israel, hulle het agteraf van Jesus gepraat en planne gemaak om Hom dood te maak. Hulle lewe het niks gewys van die liefde vir ons naaste wat God verwag het nie, al het hulle elke dag die Bybel bestudeer en die wette goed geken.
Met hierdie gebod staan ook elkeen van ons ook juis voor die Here Jesus Christus. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy lewe vir ons gegee het, terwyl ons sy vyande met baie sonde was. Ons was in die duisternis van sonde en ons het niks daaraan gedoen nie. Ten spyte daarvan het Christus die bitterste lyding vir ons verduur en die wreedste dood vir ons gesterf. Hy het vir ons gely en gesterf omdat Hy ons liefgehad het.
Hy, ons Verlosser verwag dat ons ons naaste sal liefhê soos onsself. Hy verwag hierdie liefde van ons, want sy Vader verwag dit.
Liefde vir ons naaste is weereens nie net woorde nie. Die liefde wat Christus ons leer en wat Hy van ons verwag omdat sy Vader dit verwag, is liefde wat gee, liefde wat opoffer. Wat ek vir myself wil hê en vir myself doen, verwag Christus dat ek ook vir ‘n ander sal wil hê en sal doen. Daar is soveel dele in die Bybel oor liefde vir ons naaste. In Eks.20 en Deut.5 leer die Here ons hoe om ons naaste lief te hê. Die verklaring van al hierdie gebooie kry ons in die Kategismus, Sondag 39 tot Sondag 44. Leer Eks.20 en Deut.5 en die Sondae in die Kategismus goed ken en leef deur die Heilige Gees so.
God se plan met ons lewe is: Liefde vir ons naaste soos onsself. Liefde vir ons naaste, liefde wat doen en wat opoffer, bou ‘n gesin op en bou ‘n gemeente op, want hierdie liefde kom nie uit onsself nie. Liefde vir ons naaste kom van die Heilige Gees. Wanneer ‘n gesin en gemeente mekaar liefhet met die liefde wat die Heilige Gees gee, gaan dit goed in ‘n gesin en gaan dit goed in ‘n gemeente.
ANTWOORD
Sing: Ps.18:1,14
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.116:1,7,10
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen