Home Preke God se volmaakte plan vir ons God se plan – Hy verlos ons van tyd en gee aan ons die ewigheid

God se plan – Hy verlos ons van tyd en gee aan ons die ewigheid

Datum: 2025-07-13
|
Reeks: God se volmaakte plan vir ons
|
Kernverse: Pred.3:11

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.33:1,6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 30/Sondag 3 4
Antwoord op die Wet: Skb.9-3/70:1,2
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.4:3,4
Lees: Prediker 3
Kernvers: Pred.3:11
Tema: God se plan – Hy verlos ons van tyd en gee aan ons die ewigheid
Sing: Ps.33:1,6; Ps.71:9; Skb.9-3/70:1,2; Ps.4:3,4; Ps.20:1,2,5,7; Skb.18-6:1,2,3,4,5

Inleiding:

Tyd en ewigheid is deel van elke gelowige se lewe. Tyd is kort en gaan vinnig verby. Ewigheid het nie ‘n begin nie en ook nie ‘n einde nie en gaan nooit verby nie. God se plan met ons lewe is om ons te verlos van tyd en aan ons die ewige lewe te gee.

Tema: God se plan – Hy verlos ons van tyd en gee aan ons die ewigheid

  1. Ons is vasgevang in tyd

Die Prediker was iemand wat die lewe ondersoek het. Hy het baie dinge self beproef. Hy het oor alles wat hy gesien het nagedink. Nadat hy oor alles goed nagedink het, het hy gevolgtrekkings gemaak. Hy het sy gevolgtrekkings neergeskryf. Dit is wat ons in die boek Prediker lees.

Een van die dinge wat die Prediker in hierdie lewe raakgesien het, is:”Elke ding het sy vaste tyd” (Pred.3:1). Alles in hierdie lewe begin met geboorte en eindig met sterwe (Pred.3:2). Tussen ‘n mens se geboorte en jou sterwe gebeur daar baie dinge.

Wanneer dit by dinge wat gebeur en tyd kom, het die Prediker ‘n tweede belangrike ding in hierdie lewe raakgesien: “God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd” (Pred.3:11). In Hebreeus staan daar in werklikheid “God het elke ding mooi in sy tyd gemaak”. Alles gebeur nie net nie. God maak dat elke ding wat gebeur, in sy tyd wat Hy daarvoor gegee het, pas.

Wat meer is, is dat dit nie net sy persoonlike mening is wat ons lees nie. Die Heilige Gees het hom gedring om alles neer te skryf. Die woorde van die Prediker is dus woorde wat van God af kom.

Wanneer mens Pred.3:1-8 lees hoe elke ding ‘n tyd het, mag die woorde dalk vir ons so mooi en gerusstellend klink. Daar hoef nie bekommernis en spanning te wees nie, elke ding het sy vasgestelde tyd, so mag ons dink en voel.

Die Prediker het hierdie woord nie so bedoel nie. Hy anders daaroor gedink en gevoel dat elke ding sy vasgestelde tyd het. Hy het gesukkel met die dinge wat in die wêreld volgens ‘n vaste tyd gebeur, want daar was ook ‘n tyd om te huil, ‘n tyd om af te breek, ‘n tyd om te treur en al die ander dinge wat swaar en seer is. Uiteindelik is die swaarste van alles wat gebeur:“‘n Tyd om te sterf” (Pred.3:2).

Die Prediker beskryf al hierdie dinge wat gebeur as moeite (Pred.3:9), onbegryplik vir ons as mense (Pred.3:11), waarteen ons magteloos is om iets te doen (Pred.3:14) en wat oor en oor herhaal word (Pred.3:15).

Hoe bekend klink die Prediker se woorde nie! Hy het gesukkel met tyd en wat alles in hierdie lewe gebeur. Is ons nie maar in dieselfde bootjie nie?

  • Hoeveel keer wil ‘n mens nie net meer tyd hê om alles te kan doen wat jy moet nie? Te min tyd en te veel om te doen, maak dat hierdie lewe vir ons baie moeite gee.
  • Dan is daar die tyd van siek wees en oud word. Besoeke aan die dokter gebeur meer gereeld, baie en duur medisyne is soggens en saans deel van die lewe. Ons liggaam word swakker. Dit voel of ‘n mens liggaam jou in die steek laat.
  • Uiteindelik breek die tyd aan om te sterf.

Niks van hierdie dinge gebeur sommer maar net nie. God maak elke ding om in sy bepaalde tyd te pas. Tyd kom van Hom af. Hy gee vir ons bepaalde tyd. ‘n Dag, week, maand, jaar is net so lank. Dit alles gaan ook verby. Niks is blywend nie.

Die Prediker het daarmee gesukkel. Ons sukkel ook maar daarmee. Wat is die rede dat ons so met tyd sukkel?

Sonde is die rede! Met die sondeval het die tyd  wat God geskep het verander. Dit was toe dat tyd om te huil, tyd om af te breek, tyd om te treur en tyd om te sterf in die wêreld gekom het. Van daardie dag af is die mensdom vasgevang in tyd.

Prediker se siening van hierdie lewe met sy vaste tyd waaraan ons as mense niks kan doen nie , is sy bekende woorde: Alles tevergeefs (53 vert) of Alles kom tot niks (83 vert).

2. Jesus Christus kom na ons toe in die tyd

God is die almagtige Skepper van hemel en aarde. Hy is die ewige God, van ewigheid tot ewigheid is Hy God. Hy is ook die genadige en getroue Verbondsgod.

In sy almag en sy genade het God die volheid van die tyd (Gal.4:4) laat aanbreek. Dit is die vasgestelde tyd wat Hy laat aanbreek het om die verlore mensdom wat deur sonde in in tyd en verganklikheid vasgevang was, uit liefde en genade te red.

God het uit liefde sy Seun aarde toe gestuur. Op ‘n almagtige manier het Hy sy Seun mens laat word. God se Seun is ontvang van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria. Jesus Christus, God se Seun het gekom om ons te verlos van sonde. Hy het ook gekom om ons te verlos van tyd en verganklikheid wat ons so gevange gehou het.

Die Here Jesus self het in die tyd na ons toe gekom. Ook Hy was vasgevang in tyd. Daar was ook vir Hom ‘n tyd om gebore te word. Dit was die nag in Betlehem. Daar was ‘n tyd dat sy ouers met Hom na Egipte moes vlug. Daar was ook vir Hom ‘n tyd om te treur oor Lasarus wat gesterf het en oor Jerusalem wat Hom nie as Verlosser wou aanvaar nie.

Daar was ook vir die Here Jesus Christus ‘n tyd om gevange geneem te word, daardie nag in Getsemané, ‘n tyd om onskuldig veroordeel te word en ‘n tyd om te sterf. Op die vasgestelde tyd deur God bepaal, het Jesus Christus ons Verlosser vir ons aan die kruis gesterf. Vir Hom, was daar ook ‘n tyd om uit die dood op te staan. Daardie Sondagoggend, die derde dag, was die graf leeg toe eers die vroue en later die dissipels daar gekom het. Die graf was leeg, want die Seun van die lewende God, Jesus Christus ons Verlosser het uit die dood opgestaan.

Deur die Here Jesus se dood en opstanding het Hy ons van al ons sonde verlos. Hy het ons vrygemaak van ons gevangenskap van tyd wat hier op aarde. Omdat Hy vir ons gesterf en opgestaan het, het ons lewe heeltemal verander. Deur sy sterwe en opstanding het Hy die sonde en die  dood oorwin.

Nou eindig elkeen wat in die Here Jesus glo, se lewe nie meer hier op aarde nie. God gee aan elkeen wat in sy Seun, Jesus Christus glo, die ewige lewe.

3. Deur Jesus het  ons deel aan die ewigheid

God het ook vir elke mens ”n besef gegee van die onbepaalde tyd”(Pred.3:11).

Hoe het Hy dit gedoen?

Hy is self ewig en leef in die onbepaalde tyd, dit is van ewigheid tot ewigheid. Hy skep die onbepaalde tyd, die ewigheid. God skep elke mens met die besef dat Hy bestaan en dat Hy ewige krag het (Rom.1:20).

God gee ‘n nog sterker besef van die onbepaalde tyd. Hy het sy Seun gestuur. Jesus Christus word mens. Hy het die mense van destyds en ook ons vandag, vertel en geleer van sy Vader se wonderverlossingsplan.

Die Here Jesus het ook gedoen wat Hy geleer het. Hy het ons verlos. Deur sy dood en opstanding het Hy die duiwel, die sonde en die dood oorwin en aan ons die nuwe lewe gegee, lewe met God, die ewige lewe.

Ons kry die ewige lewe deur ons geloof in Christus. Die Heilige Gees bind ons ewig geestelik aan Christus. Ons is ewig vas aan Christus wat na Hy gesterf en opgestaan het na die hemel opgevaar het en aan sy Vader se  regterhand gaan sit het. Omdat ons aan Christus vas is, is daar vir ons wat in Hom glo, saam met Hom plek by sy Vader in die hemel. God ons Vader laat alles in ons lewe meewerk, sodat ons by Hom kan uitkom om ewig in die hemel by Hom te wees. Elkeen wat in die Here Jesus Christus glo, leef nou reeds met hierdie sekerheid wat die Heilige Gees ons gee.

Omdat ons geloofsekerheid oor die ewige lewe het, kan ons nou met heeltemal ander oë, dit is met nuwe oë, na ons tyd op aarde kyk. Ons kan ook met nuwe gedagtes oor ons lewe op aarde dink.

  • Tydens ons lewe op aarde kyk ons nie vas teen die uiterlike swaarkry en laat ons daardeur moedeloos word en ons oorwin nie.
  • Lewe op aarde is nie ‘n wedloop vir prestasie of finansies of gesondheid nie. Ons gee nie alles wat ons het vir hierdie lewe op aarde nie.
  • Ons rig ons lewe op Christus en soek in hierdie lewe in alles na die hemelse lewe, waar Christus aan die regterhand van God ons Vader sit.

Hoe kry ek dit reg om met nuwe oë na my tyd op aarde en met nuwe gedagtes oor my lewe in hierdie tyd te dink?

  • Die Here se Woord is die ewige lamp wat vir my die weg wys en die ewige lig op my pad.
  • Die Heilige Gees in my, wat my geloof in Christus deur God se Woord gegee het, lei my om met nuwe oë te kyk na en met nuwe gedagtes te dink oor hierdie lewe.

Dit is wonderlike genade dat God ons deur die Here Jesus Christus van tyd verlos het en aan ons die ewige lewe gegee het. Gryp hierdie genade vas en leef deur die Heilige Gees vir die volmaakte ewige lewe wat vir ons sal aanbreek op die tyd deur God bepaal.

ANTWOORD
Sing: Ps.20:1,2,5,7
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-6:1,2,3,4,5
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Jesus Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig  en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen